TUINROETE ATLETIEKNUUS - Die Eden-straatmylreeks gaan sy vlerke wyer sprei en Knysna in die plek van George betrek. Die ander twee bene van die reeks word op Oudtshoorn (Klein Karoo-straatmyl) en Hartenbos (ATKV-straatmyl) aangebied.
Die reeks van drie word weer tydens die Desembervakansie in die drie dorpe aangebied. Oudtshoorn kom op Maandag 16 Desember aan die beurt, die tweede been op Knysna is op Woensdag 18 Desember en die derde been vind op Vrydag 20 Desember plaas.
Bestmed, wat die reeks vir drie jaar geborg het, het nou sy borgskap beëindig. Dit het die straatmyl, wat altyd by NMU (Saasveld) se George-kampus aangebied is, in die gedrang gebring.
NMU George het ongelukkig nie die nodige hulpbronne om die straatmyl op eie koste aan te bied nie.
Dave van der Walt, een van die organiseerders, het aan die George Herald gesê hulle is druk besig om 'n nuwe ankerborg te soek. "Die straatmylreeks gaan voort, met of sonder 'n ankerborg. Al moet ons dit effens afskaal, sal die gewilde reeks nie sneuwel nie. Ons wou dit graag weer in George aangebied het, maar niemand sien kans om hierby betrokke te raak nie.
"Ons het toe die Knysna-munisipaliteit genader en hulle het onmiddellik ingestem om hierby betrokke te raak. Dis uitstekende bemarking vir die dorp en ekonomies sal besighede ook daarby baat."
Van der Walt sê die prysgeld is noodgedwonge afwaarts aangepas, maar is steeds aanloklik en die organiseerders gaan hulle bes doen om dié straatmylreeks weer 'n groot skouspel te maak. "Die voorste mylatlete is uitgenooi om in die Suid-Kaap te kom deelneem. Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou, maar tog deel vorm van die Eden-straatmylreeks. Die Grand Prix-wenner word ná afloop van al drie byeenkomste bepaal.
Vanjaar borg die Vrystaatse Universiteit (Kovsies) weer die Grand Prix-deel van die reeks. Die mans- en vroueatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, sal met die Grand Prix-prys wegstap. Die afgelope vier jaar is reeds sewe droommyle gehardloop deur topatlete soos Johan Cronjé (3:55.60), Dumisane Hlaselo (3:55,71), Elroy Gelant (3:56,74), Nyongo Amos (3:55,60 en 3:52,99) en Ryan Mphahlele (3:56,04 en 3:57,95).
Die fietsry-straatmyle vind net op Oudtshoorn en Knysna plaas en gaan beslis van die land se topfietsryers trek.
Die Eden-straatmylreeks word weer onder die beskerming van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF), en in vennootskap met Atletiek SWD (ASWD), Eden-fietsry, die Knysna-munisipaliteit, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport en die ATKV aangebied.
Die inskrywings word aanlyn gedoen en is reeds oop. Besoek www.edenmiles.co.za . Alle reëlings rondom die byeenkomste en verblyf kan ook op dié webtuiste gevind word.
Vir enige navrae kontak Hans van der Veen ( hvdveen1966@gmail.com) of Dave van der Walt by 082 773 4901.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'