Gallery
GEORGE NUUS - Die 18-jarige Yulbremmer Keffers, 'n gr. 12-leerder by P W Botha-kollege, het verlede Vrydag by die jaarlikse interhuis-atletiekbyeenkoms die beste prestasie van die dag gelewer.
Keffers, wat vir die groenspan deelgeneem het, het die 100 m vir seuns o.19 op 'n stadige grasbaan in 'n blitstyd van 11:18 gewen en vir die tweede jaar agtereenvolgens die senior victor ludorum-beker gewen.
Die spanne van Victoria (rooispan), Montagu (blouspan) en Wilderness (groenspan) het mekaar in 'n feestelike atmosfeer die stryd aangesê.
Die rooispan met 388 punte is vir die tweede jaar agtereenvolgens as die wenspan aangewys. Die blouspan het die geesbeker gewen.
Die belowende gr. 10-leerder, Kristy-Ann Kleynhans van die rooispan, het die senior victrix ludorum-beker ontvang.
Sy het die 100 m vir dogters o.17 in 'n vinnige tyd van 12:97 gewen. Kleynhans het verlede jaar die junior victrix ludorum-beker ingepalm.
Shamoezay Layman (links) van die blouspan steek die eindstreep eerste oor in die 1 500 m vir seuns o.15 in 'n tyd van 5:24:81.
Alaric Hendriks (blouspan) in die seuns o.15-ouderdomsgroep 'n driekuns behaal deur die 100 m (12:02), 200 m (26:19) en 400 m (58:91) te wen.
Hy het die junior victor ludorum-beker ontvang.
Kay-Cee Damons (rooispan) het die junior victrix ludorum-beker ingepalm.
Sy het in die dogters o.14- ouderdomsgroep oorwinnings in die 100 m (14:81) en 400 m (1:15.88) behaal.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'