GEORGE NUUS - Vier topatlete van George is gereed om môre, Woensdag 15 Oktober, George met trots by die 15de Dagbreek-straatmyl in Stellenbosch, een van Suid-Afrika se gewildste straatmyle, te verteenwoordig.
Thinus Erasmus, die 2024 o.19-wenner, pak vanjaar die ope-afdeling aan. Sy tyd verlede jaar sou hom ’n derde plek in die mans ope-afdeling besorg het.
In Desember 2024 het hy derde geëindig by die straatmyle in Oudtshoorn en Hartenbos, waar hy albei kere as eerste junior oor die wenstreep is en ’n droommyl gehardloop het.
Sy klubmaats van SWD Boxer, Daniel van Zyl, Dian Barkhuizen en Jac du Plessis, maak elk hul Dagbreek-debuut in die o. 19-afdeling.
Thinus, Daniel en Jac is leerlinge aan Hoërskool Outeniqua, terwyl Dian ’n leerder aan Hoërskool Punt is.
George se ultramaratonlegende Louis Massyn, wat vanjaar sy 50ste Comrades voltooi het, sal ook die byeenkoms bywoon en sy boek, 403 The Louis Massyn Story, bekendstel.
Legendes word vereer
Tydens die byeenkoms word twee Suid-Afrikaanse myl-ikone, Johan Fourie en wyle De Villiers Lamprecht, ingehuldig in die SA Heldesaal. Lamprecht, die eerste Suid-Afrikaner wat ’n droommyl gehardloop het, kaalvoet nogal, en Fourie, houer van 53 droommyle, word vereer vir hul bydraes tot die sport.
Onder die groot name op die dag is die verdedigende kampioen Deonlee Hendricks, wat vir ’n derde agtereenvolgende oorwinning mik.
Die ope-vrouekampioen, Kyla Jacobs, keer terug na haar swangerskap en sal saam met oefenmaat, Lisha van Onselen, meeding.
Die Olimpiese driekampatleet, Vicky van der Merwe-Botha, en haar man Geo Botha neem ook deel, terwyl musiek, kostuums en selfs ’n unieke skaatsplankmyl sal sorg vir feestelike atmosfeer by die geleentheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’