SUID-KAAP NUUS - Die eerste Renosterbos-roetewedloop is verlede Saterdag, 28 September, met groot sukses in Albertinia aangebied.
Altesaam 87 atlete was in aksie in die 10 en 20 km-wedlope en het van plekke soos Valsbaai, Stellenbosch, George, Mosselbaai en feitlik al die dorpe in Hessequa gekom om in die eerste roetewedloop deel te neem.
Renosterbos het deel uitgemaak van Albertinia se feesnaweek om die 120-jarige bestaan van die NG Kerk te vier.
'n Vrouetee vir 230 vroue, 'n groot gholfdag tesame met 'n egte plattelandse basaar en heerlike dans en steakete het deel van die volgepakte program uitgemaak.
"Die ondersteuning van die eerste Renosterbos-wedloop het ons verras," sê Annemarie Stander, hooforganiseerder.
"Ons het maar gehoop en gebid daar daag 'n goeie handjievol atlete op. En toe verras die mense ons en hardloop sommer op die koop toe 'n renoster uit die bos.
"Ons gaan aanstaande jaar beslis groter en gaan dan ook 'n pretloop oor 5 km by die program voeg."
Annemarie sê die atlete kon nie uitgepraat raak oor die heerlike ervaring om met volstruistrokke uit Albertinia op die grondpad na die wegspring vervoer te word nie.
"Dit was iets anders en die atlete het hulle verwonder aan die pragtige omgewing in die distrik en om volop volstruise, skaap- en beestroppe en heelwat wild die laaste 10 km teen die Garden Route Lodge se grensdraad te sien nie. Dis 'n gesig wat motoriste uit die Kaap op pad na die Tuinroete nooit ervaar nie."
'n Ander hoogtepunt vir elke deelnemer was die volgestopte pakkies met plaaslike lekkernye, Coke-waterpunte en die pragtige medaljes wat elke atleet gekry het.
In die 20 km-wedloop was Carlo Pienaar van Mosselbaai die eerste man in 'n wentyd van 1 uur 16 minute.
Tweede was nog 'n Mosselbaaier Henry Meyer en derde was Petri Stander van George (1 uur 39 minute).
In die 20 km-vrouewedloop het Elana Janse van Rensburg gewen met 'n tyd van 1 uur 44 minute met die Mosselbaaier Linette Whitehead tweede met 'n tyd van 1 uur 55 minute en Christine Crous derde (1 uur 58 minute).Die Georgiet Gerhard Dyzel wys hy het die wedloop oorwin. Foto: Hugo Redelinghuys
Ismari Stander (links) van George word by die eindpunt verwelkom deur die hooforganisserder van Albertinia se Renosterbos-roetewedloop, Annemarie Stander. Foto: Hugo Redelinghuys
Die wenners van die 20 km-manswedloop is van links: Carlo Pienaar van Mosselbaai (1ste in 1:16), Henry Meyer, ook van Mosselbaai (2de in 1:32) en derde was Petri Stander van George (1:39).