TUINROETE ATLETIEKNUUS - Met die Covid-19-pandemie wat sedert April vanjaar reeds talle sportbyeenkomste gekelder het, was daar groot onsekerheid of die gewilde Eden-straatmylreeks wel in Desember aangebied gaan word.
Die goeie nuus is dat die reeks wel voortgaan met drie mylbyeenkomste en 'n verskeidenheid van baan- en velditems.
Die organiseerders, onder voorsitterskap van Hans van der Veen, is al sedert Januarie vanjaar besig met alternatiewe planne indien die straatmylreeks nie sou kon plaasvind nie.
Maar die positiewe ondersteuning van NWU (Potchefstroom), Vrystaat Universiteit, ATKV Hartenbos, EDENfm, Atletiek SWD en moontlik die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, het saamgespan om die reeks te laat realiseer.
Atletiek Suid-Afrika (ASA) is in die proses om ministeriële toestemming te verkry vir atletiek om vroeg in November weer te begin. Dit het natuurlik die pad vir die Eden-straatmylreeks oopgemaak.
Die reëlingskomitee het op 1 Oktober met die belangrikste rolspelers 'n zoom-vergadering gehou waarna die volgende belangrike aankondigings gemaak kon word:
- Daar gaan drie mylbyeenkomste wees: 19 Desember die Klein Karoo-straatmyl op Oudtshoorn; 21 Desember die NWU/VSU-baanmylbyeenkoms op Oudtshoorn (met baanitems soos 80 m, 100 m, 400 m, aflosse en een of twee velditems); en die laaste straatmyl is op 23 Desember by die ATKV op Hartenbos.
- NWU het hul borgskap sedert 2019 verdubbel.
- Vir die eerste keer gaan daar ook korter baanitems, aflosse en velditems as deel van die baanmylbyeenkoms op Oudtshoorn aangebied word.
- Interklub/tersiêre klubkompetisie gaan plaasvind met 'n wisseltrofee vir die wenner.
- Die aanlyninskrywings open alreeds op 15 Oktober op die webtuiste www.edenmiles.co.za. Al die ander inligting kan ook op die webtuiste gevind word.
- Die prysgeld sal eers nader aan die byeenkomste bepaal word aangesien die organiseerders nog spook om nog borge aan boord te bring.
Daar word 'n Covid-19-beheerbeampte aangestel wat sal toesien dat alle nodige protokolle toegepas word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'