SKOLENUUS - Hoërskool Outeniqua se tweekampspan het hul seisoen op 'n hoogtepunt afgesluit toe hulle tydens die 49ste SA tweekamp-kampioenskappe wat op 20 en 21 Maart in Oudtshoorn plaasgevind het, as die beste span in die land aangewys is.
Die Kwagga-span het 82 hoërskole uit nege provinsies geklop om die topposisie in Suid-Afrika te beklee. Dit is boonop die vyfde agtereenvolgende jaar dat die skool onder die topdrie in die land eindig.
Individueel het die span ook uitstekend presteer. In die o. 15-seunsafdeling het Pierre Spies goud gewen en terselfdertyd 'n nuwe SA rekord opgestel. In die o. 15-meisies-afdeling het Leah Hopper 'n bronsmedalje verower. Verskeie Kwagga-atlete het ook toptien posisies behaal.
Dit sluit in Leah Hopper (o. 15-meisies), Pierre Spies, Ruan Share en Hallett Swanepoel (o. 15-seuns), Minay Botha (o.17-meisies), Christiaan Smith (o. 17- seuns), Lizandri Koen en Mia Botha (o. 19-meisies), Jean Paul van Dyk (o. 19-seuns), en Marco Erasmus (junior mans).
Lila Koen en Jean-Paul van Dyk - beide trotse Kwaggas - is die twee kapteine van die Eden-span.
Die Kwagga-tweekampers se sukses word verder toegeskryf aan die toewyding van hul afrigter, Esrie Loock, wat vir haar rol in die ontwikkeling van die atlete bedank is.
Pierre Spies en Leah Hopper.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’