Besorgde leerkrag van George skryf:
Ek reageer op jou baie goed gebalanseerde berig in die GH van 12 November 2026 oor Heatherlands-skool.
Ek deel die bekommernis van lesers wat graag wil sien dat leerders in ’n veilige en welversorgde skool onderwys kry.
Self was ek verbonde aan Die Bult Jeugsentrum vir byna 15 jaar. Die gebou self is meer as ’n eeu oud en was al die jare ’n baken in die versorging van kinders in nood oor die land heen. Vanaf 2000 was die onderwysmodel vir die skool dié van ’n jeugsentrum, een van vyf in die Wes-Kaap.
Die missie was om leerders met ernstige gedragsprobleme te akkommodeer, veral in residensiële opset binne ’n akademiese en terapeutiese omgewing. Interessant om te weet dat leerders so ’n gevoel van behoort en veiligheid gehad het dat enkeles soms van die huis af weggeloop het Bult toe. Die jeugsentrum was ’n uitnemende fasiliteit waarheen die WKOD dikwels leerders wat hulle nie geweet het hoe om te hanteer nie, vanoor die provinsie heen verwys het.
Hoe die skool op die ou end omgeskakel is na Heatherlands-skool, is die uiteinde van ’n uitgebreide beplanningsproses deur die WKOD en personeel, grootliks tydmors, wat op die ou end op niks uitgeloop het nie. Dit is ’n storie vir ’n ander dag. Die WKOD het besluit op Heatherlands-skool.
Dit is daarom hartseer om ’n wonderlike onderwysfasiliteit so te sien verval. Die verval is baie erger as wat die twee geplaasde foto’s aandui. Me Merton (WKOD) dui tereg aan dat verskeie infrastruktuurprobleme en onderhoudswerk aandag verdien. Wanneer?
Sy dui aan dat stormskade dadelik aandag gekry het. Dit is nie die verhaal wat die terrein en geboue vertel nie. Die WKOD sal geskok wees om te sien hoe die infrastruktuur lyk, asook die “herstelde stormskade”.
Die skool is ’n geenfooi-skool. Hoe kan ’n skoolbeheerliggaam en bestuur so ’n uitgebreide gebouekompleks en terrein onderhou met beperkte inkomste en slegs subsidies? Ja, die Bult Jeugsentrum het ook net vier werkers gehad en instandhouding is/was moeilik.
MAAR onderhou ten minste wat jy 10 jaar gelede ontvang het. Bewaar ter wille van kinders ’n leerdervriendelike leeromgewing! Die verval en vandalisme, soos meegaande foto’s aandui, is haglik.
Hoe kan leerders veilig en waardig voel as sportvelde nie meer bestaan nie en apparaat in ’n sportstoorkamer (soos hoogspringmatte) vernietig is? So dit wil voorkom asof leerders nie buitekurrikulêre aktiwiteite het nie, wat leerders eiewaarde gee en ontspanning bied, asook groepsgees skep, deel van ’n skool se etos is en ouerbetrokkenheid fasiliteer?
Hoe gaan jy skool in ’n fasiliteit met “pornograffiti” oral teen die mure? En stukkende vensters en apparaat? Hoe gebeur dit dat ’n voorheen uitstekend ingerigte onthaalkamer/vergaderingslokaal lyk soos ’n hool, met alle toerusting óf gevandaliseer óf weg? Hoe gebruik jy ’n afgebreekte deur om oor ’n waterlek te kom?
Die geheim is sekerlik om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te aanvaar vir wat jy erf.
Nog baie kan genoem word. Het ’n skool nie ingevolge die beginsel van in loco parentis ’n plig om die vele leerders wat DAAGLIKS tydens skoolure die pad vind, hetsy 5–10 km na hulle huise of dorp toe, eerstens te verhoed en dan ook dissiplinêr te hanteer nie? Dit gebeur as daar nie ’n gemeenskap is wat in vennootskap hande vat met die skool nie, omdat die leerders nie uit die gemeenskap kom nie en baie kilo’s moet reis.
Ten laaste, nou word ’n skool beplan in Standerstraat.
Die vrae sal sekerlik legio wees oor veral die implikasies (vervoer, finansies, voedingsbron, gemeenskapsbetrokkenheid en vennootskap, ens.) van vele sekondêre skole binne ’n radius van enkele kilometer van mekaar.
Ek wil afsluit met: Déjà vu?
WKOD reageer op brief
Dankie vir u brief en dat u u perspektief met ons gedeel het, veral in die lig van u jarelange verbintenis met Die Bult Jeugsentrum.
Ons deel u siening dat leerders onderrig moet ontvang in ’n omgewing wat veilig, geskik en bevorderlik vir onderrig en leer is. Ons neem ook kennis van u kommer oor die agteruitgang wat u waargeneem het en besef dat die fasiliteit steeds besondere betekenis het vir diegene wat oor jare heen daar gewerk en na leerders omgesien het.
Soos aangedui in ons reaksie aan die George Herald, is daar instandhoudings- en infrastruktuuraangeleenthede by Hoërskool Heatherlands wat aandag vereis. Ons wil nie die besonderhede wat reeds verskaf is, herhaal nie, maar wil beklemtoon dat die hantering van hierdie kwessies ’n deurlopende proses is en dat die huidige skoolbestuur tans hard werk om die toestand van die skool te verbeter.
Die omvang van die werk wat benodig word, beteken dat verbeterings geprioritiseer en stelselmatig aangepak moet word. Aangeleenthede wat moontlik veiligheidsrisiko’s kan inhou, geniet voorkeur, terwyl werk wat gespesialiseerde tegniese vaardigheid of toerusting vereis, verwys word deur van die toepaslike kanale gebruik te maak. Die skool kan nie verwag dat sulke werk deur algemene werkers verrig moet word indien hulle nie oor die nodige opleiding, toerusting of veiligheidstoerusting beskik om dit te verrig nie.
Ons neem kennis van u kommer oor die breër skoolomgewing, insluitend die toestand van ontspanningsareas en -fasiliteite. ’n Goed versorgde skoolomgewing dra nie net tot veiligheid by nie, maar ook tot leerders se gevoel van geborgenheid, verbondenheid en trots in hul skool. Die skoolbestuur bly daartoe verbind om die terrein met die beskikbare hulpbronne te verbeter en uitstaande kwessies in samewerking met die betrokke WKOD-amptenare aan te pak.
Ons het ook kennis geneem van u opmerkings oor leerders se doen en late tydens skoolure en die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid. Leerderveiligheid, dissipline en die skep van ’n positiewe skoolomgewing verg samewerking tussen die skool, ouers, leerders en die breër skoolgemeenskap.
Hoewel die geskiedenis en voormalige gebruik van die fasiliteit ’n belangrike deel van die terrein se verhaal is, is die belangrikste prioriteit om voort te gaan om Hoërskool Heatherlands te verbeter tot ’n veilige, funksionele en verwelkomende omgewing vir die leerders en personeel wat dit tans gebruik.
Nogmaals dankie dat u die tyd geneem het om hierdie bekommernisse onder ons aandag te bring.
Millicent Merton
Direktoraat: Kommunikasie
Wes-Kaapse Onderwysdepartement