BLOG - In hierdie stadium ry ek met 12 poniestertjies van seker so 70cm elk in my motor se kattebak rond. My eie regte egte menshare. Hulle weeg saam so 223g. Stel iemand belang?
Ek spot sommer. Nie oor die hare nie (dis rêrig daar), oor die belangstelling.
Nee, ek's nie 'n harehandelaar nie, ek het net besluit om die Raponsie-look te verruil vir… Charlize Theron in Mad Max: Fury Road; sy was nie die inspirasie nie, net om een of ander rede die eerste verwysing wat by my opgekom het.
Simson en Delila is die volgende een. Ek is nie Delila in hierdie vergelyking nie, ek's Simson en my hare is af. Ek weet nie of dit heeltemal regverdig is om die haarkapper Delila te maak nie (hoewel haar naam met 'n D begin)… Ek het ook darem nie al my krag verloor nie.
Punt is, ek het verlede Woensdag by 'n haarsalon ingestap en hulle gevra om al my hare af te skeer. Wel, 'n nommer twee. Die bogenoemde 70cm in ag geneem glo ek dit tel as "afskeer".
Nee, dit was nie 'n ingewing-van-die-oomblik besluit nie, ek wou dit eintlik al baie lank doen. En eintlik net omdat dit nog altyd vir my so lekker lyk om sulke kort hare te hê wat net nooit in die pad is nie.
Die reaksies sover was interessant, maar meestal positief. Ek het byvoorbeeld die afgelope ruk my ouers so stadig maar seker voorberei op die moontlikheid, maar ek dink nie hulle het gedink ek sal dit deurvoer nie. Ek het 'n dag lank gewag voor ek vir my ma gesê het. Sy was ontsteld, maar ek dink sy het darem nou al vrede gemaak daarmee.
My pa het gesê: "Lyk… vaartbelyn; pasop vir die son." Dit, en hy het opgemerk dat dit darem nie lyk of ek enige vreemde kroontjies het nie.
Bonusse (sover):
• My hare waai nie in my mond of oë in as die wind waai nie (nee, 'n rekkie of knippie los nie altyd daai probleem op nie)
• Vinniger hare was
• Minder sjampoe en opknapper
• Hare hoef nie saam met my om te draai wanneer ek slaap nie ('n bolla was soms te swaar, so dit los 'n vlegsel of los hare)
• Hempsknope haak nie aan my hare vas nie
• (Daar is definitief meer, maar my plek raak op)
Nie-bonusse (sover):
• Die teruggroei - nugter alleen weet hoe dit sal gaan… ons is gelukkig nog nie naby genoeg aan daai brug om te begin dink aan afbrand of oorstap nie.
• Dalk bietjie koud in die winter (en sien pa se kommentaar bo oor die son). Niks wat 'n mussie of 'n hoed nie kan oplos nie. Hoede, terloops, is deel van die bonusse, want ek hoef nie meer my bolla of poniestert in ag te neem nie.
• Mense herken mens miskien nie. Maar ek is nie so seker dit is noodwendig 'n negatief nie.
Daar sal seker nog kom, maar tot op hede was ek nog nie 'n oomblik spyt nie.
Oe, Demi Moore se G.I. Jane is nog iemand waaraan ek nou dink. Ek onthou nog hoe sy met haar hare in die branders gesukkel het. Same, girl.
O, en nog 'n terloops, ek gaan die hare aan KANSA skenk vir diegene wat dalk bekommerd was.
Ek noem dit so ver ondertoe, want my rede vir afskeer was totaal selfsugtig, maar dit beteken nie iemand anders kan nie steeds daaruit baat nie. En dis bietjie vreemd om met so baie hare in 'n plastieksakkie in jou kattebak rond te ry…
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’