OPINIE - Verlede Donderdag het 'n graad 9-leerder geboorte geskenk in die siekeboeg by haar skool. Die Mossel Bay Advertiser het 'n storie hieroor op Facebook en op die koerant se webwerf geplaas.
Nie die identiteit van die leerder of die naam van die skool waar dit plaasgevind het, is bekend gemaak nie.
Sommige lesers het die Advertiser na afloop van die berig in die kommentaar-afdeling gekritiseer en gevra hoekom 'n storie soos dié juis nuuswaardig is.
Vir daardie lesers: dit is nuuswaardig. Bykans 365 tieners skenk daagliks in Suid-Afrika geboorte.
Tien hiervan is jonger as vyftien. Dìt is volgens onlangse statistiek, wat deur die Bhekisisa Centre For Health Journalism bekend gemaak is.
Dit is nuuswaardig, want stories soos dit behoort aan die groot klok gehang te word. Ons as 'n gemeenskap moet daaroor kan praat. Dit is juis as gevolg van stilbly en anderkant toe kyk, dat ons met 'n krisis op hande sit.
As koerant speel ons ook 'n opvoedkundige rol in die gemeenskap.
Tienerswangerskappe bied verskeie uitdagings aan jong ma's, wat dikwels moeilik is om te oorkom.
Nie net los baie meisies skool nie, maar hulle sukkel om later werk te kry, 'n inkomste te verdien en om na hulself en die baba te kyk. Ons land is reeds op sy knieë wat sosio-ekonomiese uitdagings betref.
'n Tienerswangerskap gaan ook nie noodwendig gepaard met 'n ondersteuningsnetwerk nie. Dikwels word daardie meisie deur haar gesin en die samelewing verwerp. Die siklus wat op haar wag is 'n moeilike een om te breek en het 'n rimpeleffek op die baba se toekoms.
'n Jong ma moet al die ondersteuning vanuit 'n gemeenskap kry wat sy kan ontvang en die pa van die kind moet verantwoordbaar gehou word en sy rol as pa-figuur, nes die ma, inneem.
Ons moet praat oor tieners wat swanger raak, want daar is groot fout in ons samelewing as soveel tieners soos wat daar dae in die jaar is, daagliks kinders kry.
Ernstige vrae moet gevra word.
Kan seksopvoeding by skole verbeter? Word daar ooit genoegsaam by skole op dié onderwerp gefokus? En wat is ons rol as volwassenes?
Kyk ons bloot anderkant toe en vermy dikwels ongemaklike onderwerpe met ons kinders eerder as om hulle in die oë te kyk en die waarheid van die lewe te vertel?
Dat indien jy gaan seks hê en jy nie voorbehoeding gebruik nie of jou voorbehoeding nie voldoende is nie, jy swanger kan raak!
Dit is eintlik regtig so eenvoudig soos dit.
Indien ons nie hande vat en ons kinders behoorlik opvoed nie, is tienerswangerskappe ons skuld ook.
Om bloot vir kinders te preek dat hulle nie seks moet hê nie, is nie 'n oplossing vir 'n ramp waarop ons as 'n samelewing besig is om op af te stuur nie.
Daar behoort gereeld met tieners gepraat te word oor voorbehoeding en oor seks. Opsies moet aan hulle gegee word, soos indien hulle besluit om seksueel aktief te wees, waar hulle voorbehoeding kan kry.
Verdere opvoeding oor seksueel oordraagbare siektes en MIV/vigs gaan hand-aan-hand met die onderwerp.
Eers wanneer ons as volwassenes dit alles gedoen het, kan ons ons hande in onskuld was wanneer 'n tiener swanger raak.
Disclaimer: The opinions expressed in this article are those of the author. They do not purport to reflect the opinions or views of Group Editors and its publications.