OPINIE - Ons almal wil graag dink - en hoor - dat ons kinders met goud beslaan is. En wragtig, ja, ons kinders is baie oulik. Wat my egter die josie in maak, is privaat ondernemings wat probeer munt slaan uit ouers se oorweldigende behoefte om te glo dat hul nageslag die volgende nasionale sporthelde, skoonheidskoninginne, akteurs en ambassadeurs van ons land kan wees.
Hiermee bedoel ek nie ons kinders het nié die potensiaal nie. Ek wil bloot die punt tuisbring dat, indien jou kind buitengewone talent het, hy of sy weldra raakgesien sal word deur die regte mense.
Ek het 'n broertjie dood aan privaat instansies wat veral arm mense teiken, met beloftes dat hul kinders die volgende superhelde is.
Tipies word daar van hierdie ouers verwag om derduisende rande in te samel vir 'n oorsese toer, of 'n geleentheid om op 'n internasionale verhoog hul talente te vertoon. Die koerant word genader, want hulle moet help om besighede te lok wat in hierdie toekomstige blink sterre gaan belê. En die beste is, baie besighede is wel op soek na moontlike suksesverhale, want as borge kan hulle bou aan 'n beeld dat hulle die agtergeblewenes en buiteperde ondersteun. Dit is ook wonderlike publisiteit.
Ek voel skoon naar op my maag.
Op die ou end het die hele petalje weinig met die kind se talent te doen, maar meer met bemarking en geldmaak. Van hierdie kinders het nie eens ordentlike skoolklere om te dra nie, alles is stukkend, maar nou moet ma - wat 'n huiswerker is - probeer om die onmoontlike te vermag.
Ons hoop op sukses stop ook nie by ons kinders nie. Verlede week het 'n vrou van hier my gekontak met 'n nagmerrie van 'n verhaal. Sy het haar hele erfporsie van bykans R100 000 bestee aan 'n kans om 'n liedjie op 'n verhoog in Los Angeles te sing. Jy sien, sy is gekies vir hierdie internasionale talentkompetisie, en sy het gewen. Maar toe moes sy opdok om te kan deelneem. Vir maande het sy gespook om geld bymekaar te kry, en toe - soos 'n bestiering, erf sy geld. Sy betaal die volle bedrag en beplan haar reis.
Ongelukkig was daar politieke onstabiliteit in die stad van die engele, en die kompetisie is op die laaste minuut gekanselleer. Die fynskrif beskerm die maatskappy, en daar verloor die vrou duisende rande. Dis verblyfkoste, vlugkaartjies - die lot! "Ek kon 'n klein besigheid met daardie geld begin het," sê sy vir my.
Ons het ons God-gegewe talente gekry om te ontwikkel, maar loop lig vir daardie vleitaal, daardie verdomde heuningkwas, wat jou diep in die sak laat grawe om iemand anders ryk te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’