GEORGE NUUS - 'n Spesiale vakansieprogram vir kinders tussen 8 en 13 jaar word van 7 tot 11 Julie by The Marshmallow Café in George aangebied.
Die week lange program, aangebied deur die Christelike aanlynbediening, Geloofstroom, bied ouers 'n waardevolle geleentheid om hul kinders op 'n prettige, speel-gebaseerde manier aan Bybelkennis bloot te stel.
Met die groeiende besef dat Bybelonderrig nie meer as 'n skoolvak aangebied word nie, en dat ouers soms oorweldig voel oor hul verantwoordelikheid in dié verband, wil die aanbieders ouers bystaan en kinders motiveer om self in die Bybel te lees, stories te leer en teksversies op te soek.
Die program duur elke dag van 10:00 tot 13:00 en die koste beloop R500 per kind (R100 per dag) om kostes te dek.
Besprekings sluit op 1 Julie en plek is beperk tot 50 kinders.
Die program word aangebied deur Herman, Emmie, Hanna en Emma de Kock, almal lede van Eden-gemeente.
Herman is 'n gekwalifiseerde leraar, gelegitimeerde prediker en gereelde bydraer tot die Juig!-tydskrif. Die span beskik oor jare se ervaring in interkerklike jeugbediening en het sedert 2017 al talle ouers en gemeentes bygestaan met praktiese Bybelonderrig vir jong kinders.
Kinders sal tydens die week saam sing, speel, kuier en op 'n lewendige manier van die Bybel leer. Jong helpers, of 'Roeiers', sal as groepleiers optree.
Elke kind moet hul eie papierbybel, penne en kleurpotlode saambring.
Hulpmiddels en 'n ligte peuselhappie sal voorsien word. Ouers kry toegang tot alle onderrigmateriaal wat gedeel word, en kinders wat die volle week bywoon ontvang 'n sertifikaat van deelname.
Die program word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied, maar Engels kan ook in liedjies en video's ingesluit word.
Selfone mag saamgebring word, maar kan tydens aktiwiteite gehou word indien dit steur.
Vir meer inligting, skakel 083 326 5715.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’