GEORGE NUUS - ’n Nuwe inisiatief om dankie te sê en erkenning te gee vir oudonderwysers van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) is van stapel gestuur. Die plan is om dit ’n jaarlikse geleentheid te maak en vanjaar is dit deur die Kwagga Trust geborg.
Die eerste geleentheid het op Donderdag 24 April by die Cula Restaurant by die Outeniqua Leefstylsentrum plaasgevind.
Dit is deur 33 oudonderwysers, wat oor ’n tydperk van sewe dekades ’n verbintenis met die skool gehad het, bygewoon. Een van Kwaggas se bekendste oudhoofde, Tommie Smook, was onder die aanwesiges.
Daar word algemeen aanvaar dat oudleerlinge van skole reünies hou, maar soortgelyke geleenthede vir oudonderwysers is minder algemeen.
Chris Hattingh, voormalige onderhoof van Kwaggas, was instrumenteel om die geleentheid te skep.
Hy het by navraag aan George Herald gesê dit was ’n besonderse geleentheid en dit was duidelik dat daar beslis ’n behoefte aan sulke byeenkomste is.
Die vyf oudhoofde wat dit bygewoon en in ’n stadium by Kwaggas skool gegee het, was Tommie Smook, Koos van Tonder (HTS Eden), Jannie van der Westhuizen (Paul Roos Gimnasium), Stephanus Potgieter (Langenhoven Gimnasium) en Herman Maartens (Hoërskool Albertinia).
Flip de Swardt, voormalige onderhoof van die skool en ook oudburgemeester van George, was ook by die geleentheid. Benewens die skool, het hy diep spore in George getrap en is een van die bekendste inwoners.
Altesaam sewe voormalige wiskunde onderwysers van die skool was onder die aanwesiges. Benewens De Swardt en Van Tonder was ook Casper Brink, Hannake Luttig, Johanna Vermeulen, Stephanie Pretorius en Lanelle Taljaard teenwoordig.
Die oudste onderwyser was Dewald de Waal (88) wat vir jare houtwerk onderrig het en verantwoordelik was vir die vassit van die houtbalke op die pawiljoen by die Tommie Smook-stadion.
Drie musiekonderwysers, Bertie van Straaten, Amanda Hattingh en Elmien Maré, het herinneringe uit die verlede gedeel. Van Straaten en Hattingh was ook die stigters van die Outeniqua Koorfees in 1982.
Elsabé du Toit (snelskrif en tik) en Karen Temmingh (Latyn) het ook saam gekuier.
Hattingh het gesê die Kwagga Trust, wat vanjaar 25 jaar oud is, wil op dié wyse hulde bring en erkenning gee aan oudonderwysers. Onderwysers speel ’n belangrike rol in die lewens van kinders as rolmodelle, mentors en afrigters.
Wat sê die wat bygewoon het?
Flip De Swardt het gesê dit was ‘n onvergeetlike geleentheid en sulke geleenthede is nodig. Al die aanwesiges het ’n groot rol gespeel in die opbou en goeie naam wat die skool vandag het.
Tommie Smook het gesê dit was nodig en ’n positiewe geleentheid. “Dit moes al lankal plaasgevind het.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’