APOLOGY | 18 MARCH 2021
George Herald apologises to PBI leader Virgill Gericke for unfairly stating that he struggled to keep his emotions under control during a radio debate with two DA officials.
Gericke lodged a complaint with the Press Council on 23 November 2020, following the publication of this article on 19 November 2020, 'Watermeter-pamflet: Warm debat en klagtes' (Water meter pamphlet: hot debate and complaints).
Visit www.presscouncil.org.za for the full finding.
GEORGE NUUS - Die melk is steeds suur oor 'n pamflet oor voorafbetaalde watermeters wat sowat vyf dae voor die tussenverkiesings van 11 November deur die PBI-party uitgereik is.
Luidens die pamflet wil die DA in al die dorpe waar dié party regeer sulke watermeters aan die breër publiek afdwing. In 'n artikel verlede week (George Herald, bl.11: DA says PBI water flyer doesn't wash) maak Tertuis Simmers, DA-voorsitter van die oos-streek, sterk kapsie teen hierdie stelling van die PBI.
Hy noem die inligting "misleidend en vals". Tans is daar geen planne om die toestelle in George te installeer nie.
Die leier van die PBI, George-raadslid Virgill Gericke, Simmers en die DA-kiesafdelingshoof van George, Geordin Hill-Lewis het verlede Vrydagoggend 'n hittige gesprek op EDENfm gevoer.
Watertoestelle
Volgens Simmers word voorafbetaalde watermeters by privaat wonings, soos woonstelle of komplekse geïnstalleer en nie in die breër gemeenskappe nie. Hy het die verskil verduidelik tussen voorafbetaalde watermeters, en waterbeheertoestelle, wat wel in sosiale behuisingsprojekte in die Kaapse omgewing en Knysna gebruik word.
Die beheertoestelle help inwoners glo om hul deerniskwota vir die maand beter te benut. Volgens Simmers gaan die water op 'n drupstelsel nadat die dag se kwota bereik is, en vloei die stroom weer sterk vanaf middernag.
"Dit is om mense te help dat hulle nie vir etlike dae sonder water sit nie," het Simmers verlede week verduidelik.
Gericke voer aan dat elke mens 'n reg tot water het en vind dit onaanvaarbaar dat inwoners vooraf vir water moet betaal. Wanneer deernisgesinne se kwota water vir die dag op is, weens regulering deur 'n beheertoestel, moet so 'n gesin water aankoop indien hulle 'n sterk vloeiende stroom water vir die res van die dag verlang.
Geordin Hill-Lewis Foto's: Michelle Pienaar
Klagtes
In 'n verklaring van die PBI vandeesweek word aangevoer dat Gericke Maandagoggend klagtes op 'n dringende basis by die Menseregtekommissie ingedien het, ná die radiodebat. "[Gericke] voer aan dat sy basiese reg tot menswaardigheid aangetas is en dat die DA besig is om boelietaktiek te gebruik om 'n debat oor diensleweringskwessies te onderdruk," lui die verklaring.
Hill-Lewis het bevestig dat die DA reeds verlede week (11 November) 'n klag by die polisie en OVK ingedien het oor "die verspreiding van valse inligting aan kiesers", wat hulle as 'n oortreding van die munisipale verkiesingswet beskou.
Sy kommentaar oor die PBI se klagte teen hom is as volg: "The complaint is laughable. Politics is not for the thin-skinned. He must toughen up."
In die PBI se verklaring word beweer dat die DA-verteenwoordigers herhaaldelik neerhalende aanmerkings teenoor Gericke gemaak het: "[Gericke] het gesê dat hy nie hier is om persoonlike aanvalle te loods nie. Hy het gesê dat hy nie 'so 'n tipe vuil vark' is om mense persoonlik aan te val nie.
Hierop het Hill-Lewis gesê: 'I think you're worse than that'. Gericke was ook uitgemaak as 'n leuenaar wat onwaarhede verkondig, 'n valse profeet en 'n man sonder integriteit."
Aan die ander kant van die munt het Gericke geensins teruggestaan tydens die bekgeveg nie. Hy is op 'n stadium deur die omroeper stilgemaak en het gesukkel om sy emosies te beteuel. "Don't come here with your white arrogance," het hy Hill-Lewis op 'n stadium toegesnou.
Tertuis Simmers
Brief van speaker
George-speaker, Gerrit Pretorius, het bevestig dat hy stappe teen Gericke geneem het: "Die Gedragskode vir Raadslede soos vervat in die Munisipale Stelselswet bepaal dat 'n raadslid ten alle tye in die beste belang van die munisipaliteit moet optree en op so 'n manier dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie gekompromitteer word nie. Dit bepaal voorts dat die speaker stappe moet doen indien 'n redelike vermoede bestaan dat die Gedragskode oortree is."
"Raadsheer Gericke, leier van die PBI, se gefabriseerde stellings sonder bewys, op die lug en skriftelik, was kwalik in die beste belang van die munisipaliteit en het duidelik geïmpliseer dat so 'n projek in George sou plaasvind. Volgens die Gedragskode moet 'n ondersoek plaasvind, en sal dit deur 'n onafhanklike derde party gefasiliteer word."
In die PBI se verklaring maak die party kapsie teen Pretorius se skrywe aan Gericke: "Gericke wys die speaker daarop in sy skrywe dat hy (speaker) reeds tot 'n bevinding gekom het deur hom (Gericke) te impliseer, nadat die nuusbrief onder die naam van die PBI uitgereik is. Dit wil voorkom asof die DA die posisie van die speaker misbruik om 'n bepaalde politieke uitkoms te verseker."
George Herald het reeds verlede Vrydag 'n medianavraag aan Simmers en die George-munisipaliteit gerig om meer inligting te bekom oor hoeveel water aan deernisgesinne toegestaan word en hoe hulle dit maksimaal kan benut. Teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie. Hou George Herald dop vir verdere beriggewing oor die kwessie. Red
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'