GEORGE NUUS - Dit was 'n ondervinding wat ek vir geen geld in die wêreld sal verruil nie," sê Gerrit Pretorius, speaker van die George-stadsraad, wat van 1987 tot 1989 wyle Pik Botha se privaat sekretaris was.
Botha, een van Suid-Afrika se bekendste politici, is verlede week by sy huis in Pretoria oorlede. Pretorius was Botha se privaat sekretaris toe hy minister van buitelandse sake was.
Pretorius was in die verlede 'n beroepsdiplomaat en het senior posisies beklee by Suid-Afrika se ambassades in Brittanje en Kanada. Hy is vroeg in 1987 ingelig dat hy Botha se privaat sekretaris sou word. In daardie stadium was hy nog in Londen.
Op 1 Mei 1987 het hy sy nuwe pos aanvaar. "Ons het mekaar glad nie voor die tyd geken nie. Ek is na sy huis in Pretoria-Noord. In daardie stadium was daar 'n verkiesingsveldtog aan die gang. Dit was 'n besige tyd soos in rof besig. Jy het nie grond gevat nie."
Pretorius is aan die diep kant ingegooi. "My eerste indrukke was dat hy respek afdwing. Van die eerste dag af het ek enorme respek vir hom gehad." Ook opvallend was sy deernis vir mense - nie net tydens verkiesingsveldtogte nie.
Volgens Pretorius was dit sommer gou duidelik dat Botha 'n hoë werketiek het. "Hy was 'n baie harde werker en ure in 'n dag het nie vir hom saak gemaak nie."
Hy was 'n veeleisende baas. "Jy kon nie balle laat val nie. Jy moes vir 24 uur verskriklik paraat wees."
Aan die begin was dit 'n aanpassing. "Hy het gekommunikeer, maar dit het gevoel of ek op 'n afstand is. Mettertyd het ons mekaar beter leer ken. 'n Minister en sy privaat sekretaris bring baie tyd saam deur."
Dit was ook harde werk om sy vertroue te wen. "Hy het jou nie op sigwaarde gevat nie."
Botha het sy personeel baie professioneel hanteer. "Ek kan nie een keer onthou dat hy my aangespreek het nie. Daar was tye wat dit ligtelik en baie ontspanne was."
Hulle het met baie bekende mense te doen gehad en ook dikwels nasionaal en internasionaal gereis. In dié tye het hulle beleef hoe geskiedenis gemaak word. Pretorius onthou die dae toe Botha direk betrokke was by die vredesonderhandelinge in die destydse Suidwes-Afrika wat uitgeloop het op die land se onafhanklikheid.
Pretorius was in 1987 ook op die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad toe Wynand du Toit saam met Botha van Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer het. Du Toit, 'n verkenningsoldaat, is in die 1980's Angola aangekeer en aangehou na 'n mislukte operasie van die destydse Suid-Afrikaanse weermag.
Pretorius sê nieteenstaande opvattings dat Botha 'n openbare persoon was, was hy eindelik 'n baie privaat mens.
"My ervaring was dat hy nie doelbewus die kollig gesoek het nie." Een van sy leemtes was dat hy nie 'n "boys man" was nie. Hy het nooit met Botha gepraat oor die feit dat hy twee keer verloor het in die stryd vir die top politieke pos in die land nie.
As hy nou terugdink aan Botha, dink hy aan 'n gebore leier en 'n lojale soort mens. "Aan iemand wat waarlik vir Suid-Afrika en al sy mense omgegee het."
Hy het ook baie by Botha geleer. "Ek het van hom deeglikheid en nederigheid geleer. Voorts om die lewe te geniet."
Hierdie foto van Pik Botha, sy vrou Helena en Gerrit Pretorius is in 1988 in 'n restaurant in Rome geneem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'