GEORGE NUUS - Die DA het Dyalin Mitchell aangewys as een van sy kiesafdelingshoofde in George. Mitchell, die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, was tot onlangs betrokke by die DA in Beaufort-Wes en Sentraal Karoo.
Hy is van Dinsdag 1 Februarie saam met Mimmy Gondwe een van die party se kiesafdelingshoofde in George.
Hy kom in die plek van Geordin Hill-Lewis wat in November verlede jaar tot burgemeester van Kaapstad verkies is.
Tertuis Simmers, die waarnemende DA-leier in die Wes-Kaap, het Dinsdag 1 Februarie by navraag bevestig dat Mitchell nou die pos beklee.
Volgens Simmers het die party se provinsiale uitvoerende komitee Maandag skrywes aan alle DA-kiesafdelingshoofde in die Wes-Kaap gestuur. Dit is ter bevestiging vir watter kiesafdelings hulle voortaan verantwoordelik sal wees.
Dit het Dinsdag in werking getree. Hulle moet nou afskrifte van die skrywes voorsien aan die openbare strukture waartoe hulle verkies is, byvoorbeeld die provinsiale wetgewer, die nasionale vergadering of die nasionale raad van provinsies.
Simmers het gesê alle plasings in kiesafdelings is strategies, maar ook omdat die betrokkenes waarde kan toevoeg. Simmers self bly aan in Hessequa en is ook die DA-kiesafdelingshoof vir die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'