GEORGE POLITIEKNUUS - Die DA se federale uitvoerende komitee (Fedex) wag eers om "klarigheid" te kry voordat hy 'n finale besluit neem oor die party se burgemeesterskandidaat vir George. Só het Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, Dinsdag by navraag gesê.
Die DA het die naweek van 28 en 29 Augustus sy burgemeesters-kandidate vir dorpe in die oosstreek bekendgemaak. Vrae het ontstaan omdat kandidate vir George nie bekendgemaak is nie.
Zille het gesê daar is 'n bepaalde proses wat gevolg word. 'n Keur-paneel sit en voer onderhoude met kandidate. In George het meer as vyf kandidate aansoek gedoen.
Na die proses afgehandel is, word die uitslag na Fedex verwys. Fedex kan dit goedkeur of terugverwys na die keurpaneel. Fedex moet redes aan die keurpaneel verskaf waarom hy dit terugverwys het.
In George se geval het Fedex nie op een van die twee keuses besluit nie. Fedex wil eers meer "klarigheid" hê voordat hy 'n besluit neem.
Sy het benadruk dit gaan nie oor 'n spesifieke vraag nie. "Ons wil dit reg doen. George is 'n baie belangrike munisipaliteit."
By dit is daar ook nog die vraag wanneer die grondwetlike hof uitspraak gaan lewer oor of die munisipale verkiesing sal voortgaan of nie.
Op die vraag wanneer daar duidelikheid oor die DA se burgemeesterskandidaat vir George sal wees, het sy geantwoord: "Ek hoop dis eerder vroeër as later."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'