GEORGE NUUS - Opposisie partye in die George-stadsraad hoop om deur 'n geheime stemming vir burgemeester Leon van Wyk uit die kussings te lig.
Dit lyk in die stadium na die enigste (piepklein) moontlikheid hoe Good-raadslid Theresa Jeyi se mosie van wantroue in Van Wyk enigsins kan slaag.
Getalle is nie aan die opposisie se kant nie. Die raad word deur die DA beheer in samewerking met die VF Plus en die ACDP.
Die DA het 26 lede, die VF Plus vier en die ACDP een. Dit beteken Van Wyk, 'n DA-lid, sal kan staatmaak op die steun van 31 lede as dit 'n ope stemming is.
Al sou al die ander opposisielede saamstaan, sal hulle steeds te min hê om in 'n ope stemming 'n opskudding te veroorsaak. 'n Geheime stemming kan net slaag as van die DA-koalisie se raadslede saam met die opposisie stem, maar dit is hoogs onwaarskynlik.
Jeyi se mosie sou vandag, 29 September, oorweeg word, maar die geskeduleerde maandelikse raadsvergadering is uitgestel.
Jeyi sê haar mosie was op die agenda, en sy het probeer vasstel waarom die vergadering gekanselleer is, maar geen redes is verskaf nie.
Sy sê wanneer haar mosie oorweeg word, sal sy dit volledig motiveer. Volgens haar is daar algemene ongelukkigheid oor dienslewering. Sy dring aan op 'n geheime stemming. "Dis elkeen se demokratiese reg om sy stem in die geheim uit te bring."
Good het reeds die steun van die ANC, die PBI en die PA vir die mosie.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van George-munisipaliteit, het gesê dis normale praktyk dat die datum van 'n raadsvergadering verander en in die geval was dit as gevolg van 'n besoek van die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings.
Die raad moet ingevolge wet elke kwartaal 'n gewone raadsvergadering hou en tree binne die wet op.
Van Wyk het bevestig dat die mosie, "soos enige ander mosie", by die volgende gewone raadsvergadering sal dien.
So lyk die raad DA 26; ANC 10; Good 6; PBI 5; VF+ 4; EFF 2; ACDP 1; PA 1 - Totaal 55
George-burgemeester Leon van Wyk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'