GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit se eerste raadsvergadering ná die plaaslike verkiesing, wat vir vandag, Woensdag 18 November, geskeduleer was, is uitgestel.
Die munisipaliteit het Dinsdag 17 November aangekondig dat die vergadering tot verdere kennisgewing uitgestel word.
George-munisipaliteit het vanoggend bevestig die vergadering sal Maandag 23 November om 10:00 gehou word.
Volgens die DA se kiesafdelingshoof vir George, Dirk Wessels, is die uitstel bloot daaraan te wyte dat die party se interne keuringsproses vir die speakerposisie nog nie afgehandel is nie.
Tydens dié eerste sitting sal die nuwe George-munisipale raad ingehuldig word. Die raadslede sal ook die speaker, uitvoerende burgemeester en onderburgemeester verkies.
Die DA het in die verkiesing 50,3% van die stemme gekry en beskik met 28 van die 55 raadsetels oor 'n volstrekte meerderheid. Die party kan dus sonder 'n koalisievennoot regeer.
Die Tuinroete-distriksraad se eerste sitting sal eers plaasvind nadat al sewe plaaslike munisipaliteite hul eerste raadsvergaderings gehou en hul afgevaardigdes na die distriksraad aangewys het.
Die nuwe distriksraad sal uit 37 raadslede bestaan, waarvan 21 deur die plaaslike munisipaliteite afgevaardig word en 16 regstreeks deur die distrikstembrief verkies is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’