WES-KAAP NUUS - Suid-Afrikaners moet leer om meer pro-aktief op te tree. Die oproep is deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, gedoen tydens 'n geleentheid van die Garden Route Environmental Forum (Gref) wat verlede Woensdag, 11 Desember, by Tramonto gehou is.
Bredell was die hoofspreker by die geleentheid waar besin is oor streekomgewingsaangeleenthede en beplan is vir 2020. Bredell gesê die Tuinroete is een van die kroonjuwele van die land en moet erkenning daarvoor kry.
Miljoene mense besoek die gebied en baie mense verhuis permanent na die gebied op soek na 'n beter lewe. George is een van die vinnig groeiendste gebiede in die Wes-Kaap. Naas Kaapstad, is George die grootste stad in die provinsie.
Die groei van die gebied, gekoppel aan klimaatsverandering, verhoog die moontlike voorkoms van rampe soos veral brande. Die Wes-Kaap het sy kapasiteit oor die jare uitgebrei om rampe te kan hanteer. As dit nie daarvoor was nie, sou die provinsie in groot moeilikheid gewees het. Die skade wat deur die rampe veroorsaak is, sou baie groter gewees het.
Volgens Bredell het die droogte ook probleme veroorsaak en is 'n rede vir groot kommer in die toekoms. Hy het verwys na die uitdagings rondom watervoorsiening en gesê net 11 jaar van nou (2030) sal die vraag na vars water die aanbod met sowat 40% oorskry. Dit gaan belangrik wees hoe watervoorsiening in die toekoms hanteer word.
Almal sal moet hande vat. Daar sal anders gedink moet word en beter beplan moet word. Daar moet begin word om meer pro-aktief te wees. In Suid-Afrika is mense nie pro-aktief genoeg nie.
Volgens Bredell verstaan politieke leiers ook nie altyd die waarde van eko-toerisme nie. Dit is 'n groot mark en kan help om mense uit armoede te kry.
Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het gesê landbou en omgewingsbelanghebbendes moet saamwerk.
Een van die groot uitdagings is die groter wordende vraag na voedselprodukte en om dit te hanteer in samewerking om die omgewing te beskerm en nie te misbruik nie.
Hy is positief oor die toekoms van landbou. Die vraag na produkte groei vinnig.
Oor tegnologie het hy gesê dit kan nie geïgnoreer word nie. Dit het voordele en moet bekostigbaar wees. Dit moet ook klein en medium produsente bevoordeel. Dit kan nie geïgnoreer word dat dit 'n impak sal hê op werkskepping en werksgeleenthede. Dis 'n fyn balans en daar sal in die toekoms oor gepraat moet word.
South Africans must join hands and be more pro-active in facing the challenges of the future. This was the message brought by Anton Bredell, Minister of Local Government, Environmental Affairs and Development Planning in the Western Cape government at an event of Garden Route Environment Forum (Gref). The theme of the event was: Reflecting on regional environmental initiatives and planning ahead for 2020.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'