TUINROETE | HESSEQUA | KAROO NUUS - Solidariteit Helpende Hand in die Wes- en Suid-Kaap doen ’n beroep op die publiek om diegene te pamperlang wat op die voorgrond by ouetehuise werk.
Volgens Alisha de Lange, Helpende Hand se streekorganiseerder van die Wes-Kaap, het haar span verskeie ouetehuise in die provinsie geskakel om te hoor wat hul grootste uitdagings en behoeftes te midde die Covid-19-pandemie is.
“Alhoewel talle bejaardes tans swaar kry en groot uitdagings ervaar, is tot die besef gekom dat die versorgers van hierdie bejaardes net so swaar kry. Ewe skielik is hulle nie net die versorger nie, maar moet hulle ook vrae beantwoord oor die virus, hulle moet familie se plek inneem wat nie kan kom kuier nie en soms oor en oor verduidelik waarom dinge tans so uitdagend is.
"Dit, terwyl baie van hulle vrees om self siek te word en moontlik ’n bejaarde aansteek. Ons het daarom besluit om vir die versorgers met bederfpakkies dankie te sê,” sê De Lange.
De Lange sê ná die ouetehuise geskakel is, het sy weereens bewus geraak van die onbaatsugtige werk wat hierdie versorgers doen. Sy moedig die publiek aan om hul dankbaarheid teenoor die versorgers te wys en hul dankie-sê-projek te ondersteun.
“Ons het reeds ’n lys van die name van die versorgers in verskeie ouetehuise regoor die Wes-Kaap. Die publiek kan dus vir iemand in hul dorp ’n spesiale pakkie opmaak.
"Die waarde van die boksie is sowat R150 en die inhoud kan bestaan uit ’n persoonlike briefie, iets wat lekker proe en iets wat lekker ruik. 'n Mooi pen of notaboekie is ook altyd handig.
"Kom ons wys hulle wat so hard gewerk het en steeds werk in hierdie tyd, dat ons dankbaar is.”
Inwoners van die Suid-Kaap kan Marlise Labuschagne skakel by 071 390 7766 om die naam van ’n versorger in ’n ouetehuis in hul omgewing te kry.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'