MOTOR NUUS - Die tweede generasie Toyota Aygo het sy buiging in 2015 gemaak met 'n sterk X-motief oor die voorste sierrooster en ander X-geïnspireerde ontwerp-temas. Vir 2018 het dié super-mini onder die chirurg se mes beland vir 'n tikkie verjonging wat ook die oorspronklike X-motief volg.
'n Treffende eienskap is die nuwe groot projekteer-kopligte, met groot ligdiode-dagryligte (DRL) wat 'n liggids gebruik aan die binnekant van die koplighulsel. Hierdie gestileerde ligte lyk nou eer na die groter C-HR-stalmaat.
Die X-motief word behou met sterk kontoerlyne wat die groot lugskort omvorm met 'n groot Toyota-logo in die middel. 'n Swart onderste skort gee diepte aan die fris vooraansig.
Die sykant het 'n sportiewe aanslag met die opwaartse agterruitlyn en skuins daklyn. Soos voorheen, fokus die agterontwerp op die vertikale agterligte met nuwe ligelemente.
Die binneruimontwerp het eenstuk-sitplekke en multikleur-doekstofbeslag en oranje beligting. 'n Leerstuurwiel en -ratkierie bied ekstra weelde.
GERIEF
Aygo bied omvattende toerusting, wat 'n raakskerm-klankstelsel met USB, Auxiliary en Bluetooth-werking sowel as stuurwielskakelaars en 'n ritrekenaar insluit. Die klankstelsel het ook slimfoonverbinding deur die USB-sok.
Die elektries-beheerde vensters, afstandbeheerde sentrale sluiting, verstelbare deurspieëls, lugversorging en 12V-bybehoresokke word steeds as standaard aangebied.
Die kenmerkende Toyota-instrumentehuisie sluit 'n ronde inligtingskerm (MID) binne 'n groot en maklik leesbare spoedmeter in. 'n Toereteller en rataanwyser is weerskante van die multidimensionele spoedmeter.
VEILIGHEID
Alle Aygo's is toegerus met voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) en opdraandewegtrekbeheer (HAC), wat by die sluitwerende remme (ABS)- en remhulp (BA)-stelsels as deel van Toyota se veiligheidstrategie.
Ander veiligheidstelsels sluit in: voor- en kantlugsakke, ISOFIX-ankerpunte en driepunt-sitplekgordels met lasbeperkers en styftrekkers.
VERBETERDE ENJIN
Die doeltreffende, bekroonde 998cc-driesilinderenjin is aangepas om 'n ekstra 2 kW te lewer, wat die kraguitset tot 53 kW en 93 Nm verhoog. Amptelik gepubliseerde brandstofverbruik is 'n suinige 4,3 liter per 100 km en die CO2-syfer is na 97 g/km verminder.
Die motor se geraas, vibrasie en grofheid (NVH) is ook verminder en verseker dat die Aygo 'n selfs stiller en gladder rit bied.
DRIE MODELLE
Drie onderskeidende weergawes van die Aygo is beskikbaar – elk met sy eie teikenmark. Die standaard-Aygo bied gemoedsrus en is op begrotingsbewuste kopers gemik.
Die X-Play het 'n paar ekstra's met 'n treffende tweekleur-ontwerp, wat as die X-Play Black bekend staan met 'n kersierooi-romp en 'n swart dak. Die X-Play Silver is oniksswart met 'n silwer dak. Die gewone en die X-Play-modelle het 14"-wiele met 165-65R14-bande.
Die vlagskip-model is die X-Cite wat op kopers gerig is wat 'n bietjie ekstra status verlang. 'n Elektries-beheerde swart materiaalpaneel, of "Funroof' kan met 'n skakelaar aktiveer vir 'n bries vars lug in die hare.
Die X-Cite verhoog sy visuele trefkrag met diamantvormige 15"-allooiwiele en 165-60R15-bande.
BESONDERHEDE
Aygo - R166 800; Aygo X-Play Black - R169 100; Aygo X-Play Silver - R169 100 en Aygo X-Cite - R193 100.
Alle Aygo-modelle word deur 'n waarborg van 3 jaar or 100 000 km gedek. 'n Reeks verskillende diensplanne is beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'