MOTORING NUUS - Die algehele wenners van die 2016 Wegry SA Bullrun, die Fordoff Polisiekar wat bestaan uit ses spanlede, 'n 1968 Ford Fairlane asook 12 lede van die trokvoëls-ondersteuners, het hul titel gaan verdedig en weer deelgeneem aan die 2017 Wegry SA Bullrun wat hierdie jaar plaasgevind het op Van Wyksvlei tydens 5 en 7 Oktober.
Die kompetisie het bestaan uit verskeie afdelings, 'n 300 km-tydren, kwart myl resies, ovaalbaanrenne, drifting en verskeie ander bane wat bestuursvernuf getoets het.
Tema en spangees het ook bygedra tot 'n totale punt vir deelnemende spanne.
Hierdie jaar het Fordoff Polisie en die Trokvoëls weggeloop met 10de plek (uit 170 spanne) vir die 300 km-tydren asook die titel geneem vir beste spangees.
Team Supa Quick van Cradock was hierdie jaar se wenners.
Wat die kompetisie uniek maak is dat spanne met karre moet deelneem wat ouer as 1980 is en minder as R25 000 kos.
Die karre moet op eie stoom in Van Wyksvlei aankom en dan nog die naweek se verrigtinge en ekspedisies 'oorleef'.
Spanne van sover as Polokwane (Limpopo) het opgedaag en heelwat spanne vanuit Mosselbaai, Oudtshoorn en Fordoff van Uniondale, Noll en Knysna het die Wes-Kaap verteenwoordig.
Die Bullrun gaan nie net oor stof opskop en jaag op Verneukpan nie.
Behalwe vir die reuse-finansiële inspuiting wat Van Wyksvlei en gemeenskap kry as gevolg van die Wegry Bullrun, het deelnemers elkeen 'n skoendoos vol skryfbehoeftes geskenk aan die plaaslike skooltjie, bydraes in die vorm van bale en mielies asook kontantbydraes is gemaak aan die droogtefonds vir boere in die omgewing.
Een van die spanne by vanjaar se Wegry SA Bullrun.
Burre Burger het ook een van sy trokke met voer gestuur en Bullrunners het hul ondersteuning gegee vir kankerbewustheid deur Kansa-buffs te koop en donasies te skenk aan Kansa.
Die Bullrun is werklik 'n geleentheid waar spanne van oor ons land met 'n gemeenskaplike doel slapies aftel en deel raak van 'n groter prentjie. Vreemdes raak vriende en petrolkoppe en jaagduiwels wys hul omgeekant.
Van die deelnemers aan vanjaar se Wegry SA Bullrun.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'