MOTORING NEWS - Autodealer hier in ons streek het onlangs die plesier gehad om Suzuki se nuutste kompakte motors te bestuur en te vergelyk. Dit het noodwendig 'n bietjie van 'n innerlike stryd meegebring, want albei is op hul eie meriete bobaas.
'n Suzuki word moeilik geklop in die pret-kategorie danksy modelle soos die Jimny waarvan ons eersdaags meer sal vertel wanneer die nuwe model gewys sal word.
Die modelle het dieselfde enjins: 'n 1,2-liter-enjin met 'n vyfspoed-ratkas of outomatiese keuse.
DZIRE IS BEGEERLIK
Die Dzire is oorspronklik langs die Suzuki Swift ontwikkel as 'n deftige sedankeuse langs die vriendelike luikrug.
Suzuki is dadelik om eienskappe wat deur klante verlang word, voor te stel - soos die ABS-remme. Vir die nuwe Suzuki Dzire is die binnekamer en bestuursdinamika verbeter en die ontwerpers het 'n unieke styl vir die Dzire geskep om op die teikenmark as 'n sedan te fokus.
Verskeie buite-ontwerp-eienskappe laat die nuwe Suzuki Dzire uitstaan.
Van die voorkant het die model 'n gladde veelhoekige rooster, groot koplampe en chroom-detail op die rooster en onder die geïntegreerde mislamp-area.
Suzuki se Dzire van voor en agter gesien.
Die Dzire het ook 'n mooi voorkant, skerp A-pilare en 'n gladde skouerlyn wat reguit terug vanaf die middel van die voorste deure na die agterste LED-kombinasieligte vloei. Hierdie ontwerp beteken die motor is aërodinamies flinker, met 'n 18% verbetering in lugvloei teenoor sy voorganger, terwyl die ontwerplyne dit ook 'n styfgetrekte en lenige voorkoms gee.
Die laer lugsleursyfer verminder kajuitgeraas teen hoë snelhede met beter brandstofverbruik. Met die bestuurslag was die stil rit baie opvallend - en dit boonop op alle verskillende soorte padoppervlaktes.
Voor die bestuurder is daar 'n nuwe instrumentgroep, met duidelike instrumentasie en 'n multi-inligting vertoonskerm. Alle modelle het lugversorging, elektriese vensters, lugsakke, 'n kantelverstelbare stuurkolom, 'n sekuriteitalarm en immobiliseerder asook Isofix-ankerpunte vir kinderstoele.
In die Dzire is die spasie tussen die voorste en agterste sitplekke 55 mm meer, die agterste passasiers het 15 mm meer skouerruimte en die voorste passasiers 10 mm meer.
My aanbeveling is om albei op die inkopielys te plaas as jy in die mark is vir 'n nuwe motor teen 'n redelike prys sonder om gerief in te boet.
Suzuki maak as maatskappy opgang met verskeie toekennings van verbruikerstemme asook lof as "die handelsmerk om dop te hou".
Die nuwe voorkoms van die stuurwiel is sportief op albei Suzuki's.
SWIFT IS SWIERIG
Dit vervang die vorige twee generasies van 'n model waarvan daar reeds 19 000 eenhede in Suid-Afrika verkoop is. Om die waarheid te sê, sy voorganger was só gewild hier dat hy sy grootste verkoopsrekord van 2 966 eenhede in 2017 gehaal het. Suzuki het sedert 2005 meer as
6 miljoen eenhede wêreldwyd verkoop.
In die nuwe model is die agterpilaar donker met 'n sterk skouerlyn, wat nou verfyn is vir 'n meer vloeiende vorm.
Van die kant gesien, trek die nuwe model se skouerlyn nou styf vanaf die voorste deurhandvatsel na agter en voor. Die agterste deurhandvatsels is na die donker C-pilaar geskuif - baie modern en koepeeägtige.
Agter is daar is 'n ekstra-hoë remlig met LED-ligte in die drukvlerk bo-op die bagasiebak-kap. Suzuki het ook LED-ligte in die remligte agter.
Die deftige GL-model het kleurgekodeerde kantspieëls met ingeboude flikkerligte en misligte voor.
Selfs na die eerste inklimslag, bly 'n mens verbaas oor die gevoel van ruimte binne danksy goeie ontwerp. Die motor is wyer (40 mm), maar effens korter (20 mm). Daar is genoeg plek voor en agter en die kopruimte is 23 mm hoër.
Die nuwe Swift se bagasieruim het 268 liter pakplek, sowat 58 liter meer is as tevore.
Die nuwe Suzuki Swift is op die bestuurder gefokus met tasbare gehalte in die materiaal. Die stuurwiel met 'n D-vorm en die nuwe voor-ste sitplekke bied meer steun vir die langer rit.
Alle Swift-modelle het lugversorging, elektriese vensters, kragstuur en afstandbeheerde sentrale sluiting. Alle modelle het ook 'n stuurkolom wat op en af kan verstel, 'n ritrekenaar wat afstand, brandstofverbruik en reikafstand meet asook 'n alarm met immobiliseerder.
Die tegnologie sluit Bluetooth-selfoonkoppeling, 'n ekstra USB-sok, beheer van die radio op die stuurwiel en elektries verstelbare kantspieëls in.
TECT-tegnologie werk saam met Suzuki se aktiewe en passiewe veiligheidstelsels, waaronder twee lugsakke, ABS-remme met noodrem-hulp en elektroniese remkragverspreiding (EBD) en ISOFIX-ankers vir babasitplekke.
Die nuwe Swift weeg 'n indrukwekkende 95 kg minder as sy voorgangers. Dit maak die nuwe model een van die ligste motors in sy klas.
Interieur van die Dzire - ruim en gerieflik.
KORT EN KRAGTIG
Suzuki se gewilde K12M-enjin is in die nuwe Swift en Dzire gebruik. Die enjin is baie gewild danksy suinige brandstofverbruik, duursaamheid en betroubaarheid.
Die enjin het vier silinders met 'n relatief hoë drukverhouding in die suiers van 11:1. Die hoë druk help om die brandstofverbruik en uitlaatgasse laag hou. Die enjin lewer 61 kW teen 6 000 rpm en 113 Nm se wringkrag teen 4 200 rpm.
Die amptelike brandstofverbruik is 4,9 liter brandstof per 100 km gebruik in 'n normale gekombineerde brandstof-siklus. Dit beteken die Swift het 'n reikafstand van 750 km met sy brandstoftenk wat 37 liter hou.
Alle modelle word verkoop met Suzuki se vyf jaar of 200 000 km meganiese waarborg en twee jaar of 100 000 km diensplan.
Die grootste pluspunt vir baie is 'n volwaardige kattebak.
SLOTSOM
Die nuwe Swift se enjin is verbasend gewillig met maklike ratskakeling. Die stuurwiel se D-vorm gee 'n ekstra tikkie sportiwiteit aan die bestuurservaring. Die ruim binnekant is 'n feit en daar is volop plek voor en agter, selfs met 'n groot passasier. Alle instrumente en konnektiwiteit is binne maklike bereik en ook netjies op die oog. Die Swift sal die sak pas van eerste-keer eienaars, met verrassend baie pakplek agter.
In die woorde van Shakespeare, "...comparisons are odious" maar ons persoonlike stem is vir die prettige Swift - en maak dit 'n rooie!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'