GEORGE NUUS - 'n Groep ontevrede inwoners van Wilderness het by die bouperseel van die nuwe satellietbrandweerstasie vergader om hul ontevredenheid te kenne te gee omdat die kontrakteur nie werkers van die Wilderness-gebied in diens geneem het nie.
"Die mense word aangery van Thembalethu af. Ons gee nie om as die kontrakteur sy opgeleide mense gebruik vir die take wat spesifieke vaardighede vereis nie. Ons sou graag wou hê dat hy ons gemeenskap moes nader om ten minste net die handlangers van ons gebied werk te gee," het Jeemon Adams, die ontevrede groep se woordvoerder gesê.
Bouwerk aan die brandweerstasie het in Februarie begin. Die George-munisipaliteit het Golden Awards as kontrakteur aangestel.
Andrew Burger van Golden Awards het by navraag gesê hy kan nie sy permanente mense laat gaan om tydelike mense aan te stel nie.
"Ek kan addisionele mense aanstel, maar wie gaan daardie kostes betaal? Die kontrakvoorwaardes sê 80% van die werksmense op die projek moet van binne die George-munisipale gebied afkomstig wees en dit kom ek na."
Kommentaar van die munisipaliteit word afgewag.
Die nuwe brandweerstasie is geleë naby die Caltex The Waves-verkeersirkel op die N2. Bouwerk sal na verwagting in Julie 2021 voltooi wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'