GEORGE NUUS - Waterdruk in Pacaltsdorp blyk weer terug te wees na normaal. Luidens terugvoer van inwoners wat die afgelope ses weke op moedverloor se vlakte was weens baie swak waterdruk, verloop sake nou klopdisselboom.
Die probleem was veral erg op 'n Saterdagoggend wanneer die kraanwater soms heeltemal opgedroog het.
Volgens inligting is 'n "klep" naby Hypersave in Pacaltsdorp glo toegedraai, wat eintlik oop moes wees. Dit wil voorkom of die klep 'n groot rol in die verlies aan waterdruk gespeel het.
Nietemin word daar steeds aandag aan die saak gegee, het die direkteur van siviele ingenieurswese, Regenald Wesso, gesê.
"Die kwessie word steeds ondersoek. Sommige verskille wat in die netwerk gevind en reggestel is, het die situasie verbeter, maar ongelukkig is die probleem nog nie opgelos nie. Instandhoudingspanne fynkam die netwerk en enige afwykings wat ontdek word, word reggestel.
"Volgens die resultate van stelselanalise is die stelsel effektief. Die stelsel word gereeld opdateer en verdere ontleding sal gedoen word nadat die jongste opdatering voltooi is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'