Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die tronk is nie 'n vakansieplek nie en as jy nie 'n bendelid is nie moet jy bereid wees om die héél laaste plek in die voedselketting in te neem.
Só reken *Derrick Claassen, 'n seksoortreder en gevonniste pedofiel in sy 40's agter tralies by die George-tronk.
As deel van 'n reeks wat joernalis, Kristy Kolberg met seksoortreders doen, het die George Herald Claassen by die George-tronk besoek om uit te vind hoe hy die lewe agter tralies ervaar.
Hy wou geensins uitbrei oor die rede vir sy tronkstraf nie en het die George Herald gevra om sy identiteit te beskerm.
'n Dag in jou lewe
Vir hom begin 'n algemene dag om 05:00 wanneer hy, en ander Franse, gevangenes wat nie bendelede is nie, almal se toilette en badkamers moet skrop.
"As jy dit nie doen nie dra jy die gevolge. Soms is daar 40 tot 50 mense in 'n sel wat vir 20 gemaak is, so jy kan jouself indink hoe die badkamers lyk," sê hy.
Daarna wag hulle vir ontbyt wat bestaan uit mieliepap, hawermout of Maltabella-pap.
"Na ontbyt het ons 'n uur wat ons in die binnehof kan spandeer voor ons teruggaan sel toe en wag vir aandete wat rondom 14:00 bedien word. Vark, hoender, vis of eiers. Daarna word jy weer toegesluit en jy moet wag tot die volgende oggend wanneer als maar weer van voor af begin. 23 uit 24 uur is jy in die sel," sê hy.
Volgens hom is die bendes baie aktief en ten spyte van gereelde visentering, word daar steeds met dwelms en selfone handel gedryf.
"Tik en Mandrax is geredelik beskikbaar. Om jouself hier binne te beskerm is jy die minste, jy is nederig en jy draai jou kop wanneer jy iets sien.
"Items wat jy tydens besoektyd by familie ontvang word deur die bendelede afgevat met of sonder jou toestemming. Jy gee dit eerder vir hulle, want jy wil nie die gevolge dra nie."
Invloed op die familie
"Die grootste obstacle wat ek moes oorbrug was om vrede te maak met die situasie waaraan ek niks kan verander nie.
"Jy vat elke dag soos hy kom. Dis hartverskeurend as jy vir maande aaneen geen kontak met jou familie het nie. Dis swaar, maar, wat daarvan as dit nie gebeur het nie? Dít maak dit baie swaarder vir jou mense. Hoewel jy hier binne baie tyd tot jou beskikking het, besef jy die kosbaarheid daarvan."
Wanpersepsies
Volgens Claassen het die samelewing 'n totale wanpersepsie van wat werklik in die tronke aangaan. "So 70% van ons hier binne wil nie weer terugkom nie.
"Hulle wil iets positief met hul lewens doen. Die samelewing moet besef dat dit ook hulle verantwoordelikheid is om mense wat vrygelaat word in die samelewing te inkorporeer. Dis waarvoor korrektiewe dienste daar is. Om jou te korrigeer sodat jy kan rehabiliteer en weer by die samelewing kan inpas. Maar hoe doen jy dit as almal die heeltyd jou verlede teen jou hou?"
Hy sê daar is verskeie goeie rehabilitasie programme wat vir hulle aangebied word, maar is van die mening dat dit slegs werk indien jy regtig wil verbeter.
Kyk na 'n video hieronder waar hy hieroor, en oor ander aspekte, uitbrei.
*Derrick Claassen is 'n skuilnaam.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'