GEORGE NUUS - Die PA se burgemeesterskandidaat, Fernando Fredericks, het dalk besluit om sy gewig agter dié party te sit, maar deesdae spog die sakeman, sanger en pastoor met 'n heelwat vietser voorkoms.
Fredericks, alombekend as Kuifie, het 'n allemintige 70 kg oor die laaste 14 maande verloor, en werk nou daaraan om nóg 30 kg af te skud.
Hy vier sy 37ste verjaarsdag op 28 Junie en vanjaar het hy beslis iets om te vier. Fredericks lýk nie net goed nie, hy vóél ook goed. As voorheen gediagnoseerde diabeet en bloeddruklyer moes Fredericks daagliks pille vir sy gesondheid drink, maar nou het hy dit nie meer nodig nie.
"Sedert Januarie is my suiker 5,5 en ek het soveel energie," sê hy verlede Vrydag tydens 'n onderhoud by die koffiewinkel De Soete Nina's.
"My seun, Dantonio, sou my vroeër vra om iets te doen, en dan het ek eenvoudig nie die energie gehad nie. Nou roep ek hóm om te speel."
220 kg: Fernando Fredericks by die paviljoen op Pacaltsdorp-sportterrein in 2022.
Fredericks het al sy 'groot klere' weggegee en spog nou met 'n 44 grootte hemp, in teenstelling met die 54 wat hy vroeër gedra het. Sy vrou, Angelina, en sy seuns, Gian-Paulo (20) en Dantonio (13), ondersteun hom ten volle met sy verslankingsreis.
150 kg: Fernando in Maart vanjaar.
Fredericks het die skaal op 220 kg laat kreun en moes homself op 'n spesiale plek gaan weeg, waar mense pakkies weeg. "'n Gewone skaal weeg net tot by 150 kg," het hy gesê.
Dit het alles gebeur nadat dr. Louw by die Shoprite-sentrum vir hom gesê het dit is werklik nou tyd om 'n plan te maak. "Ek is hom ewig dankbaar," het Fredericks gesê. "Soveel mense het al met my gepraat - my ma inkluis. Maar toe dr. Louw met my praat het iets net ingeskop."
Fernando en sy vrou, Angelina, in Wellington, 2021.
Fredericks het verskeie verslankings-wenke aangepak en gewoontes gelos om te kom waar hy nou is. Hy het ook ondersteuning gehad van die gesondheidsafrigter, Mia Snyman, van Natural Life Style dieet, asook die RXME-groep van Dr. Smook & Partners.
Deesdae is Fredericks ook 'n trotse lid van Planet Fitness, waar hy twee keer per dag oefen, as sy werk dit toelaat.
Fernando en Angelina in Maart vanjaar.
Die volgende wenke deel Fredericks graag met diegene wat ook 'n paar kilogram wil verloor: Eet uit 'n kleinbordjie, eet twee etes 'n dag (12:00 en aandete voor 20:00), drink water, gebruik appelasyn soggens en saans saam met water, stap 5 km per dag (en die parkrun op 'n Saterdagoggend), sny brood, suiker, wyn en gaskoeldrank uit jou dieet.
"Dit is die moeilikste om net te begin," het Fredericks gesê. "Daarna raak dit makliker."
'n Glimlag van Fernando tydens 'n 5km parkrun-sessie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’