GEORGE NUUS - Ons fail ons jeug. Só sê Conville se Linda Branders Smit oor die kinders in haar gemeenskap wat gebuk gaan onder talle uitdagings waarvan drank- en dwelmgebruik, asook groepsdruk, die grootste euwels is.
Dit is om dié rede dat Smit en haar span van Team Strong Woman eenvoudig nie ophou om aan kreatiewe idees te dink om die kinders besig te hou nie. As dit nie 'n sportdag is nie, is dit iets anders.
Op Saterdag 9 November het sowat 60 kinders tussen die ouderdomme van drie en 18 jaar oud, deelgeneem aan 'n skoonheidskompetisie wat Smit, Mnr. en Mej. Lokasie noem.
Deur my projek kon ek die wenpryse, krone en skouerstukke voorsien. Die tema was Disney en die kinders kon in ses verskillende ouderdomsgroepe deelneem.
"Ons jeug word aan hulle eie lot oorgelaat. En omdat baie van die kinders se ouers maar nog kinders was toe hulle swanger geraak het, het die ouers nie 'n benul hoe om met hulle eie kinders om te gaan nie.
Meeste van hulle kom uit minderbevoorregte huishoudings en het dit nie altyd maklik nie.
As Team Strong Woman wil ons graag 'n verskil maak, maar finansieel is dit vir ons 'n groot uitdaging."
Daarom is Smit uiters dankbaar vir elke borg wat bygedra het tot die kompetisie. "Ek wil spesiaal dankie sê vir Rosie Venter jr. en haar ouers, Rosie sr. en Jaco. Sonder hulle borgskap sou die geleentheid nie kon plaasvind nie."
Rosie was nie nét 'n beoordelaar by die kompetisie nie, maar dié 14-jarige het ook 'n skoonheidsloopbaan waaraan sy kerf. Rosie is 'n finalis vir Miss Teen Universe 2025 wat volgende jaar in Polokwane aangebied word.
As deel van Rosie se gemeenskapsprojek, Pink out Loud, het sy en haar ouers die afgelope naweek bygedra tot die kompetisie in Borcherds.
"Deur my projek kon ek die wenpryse, krone en skouerstukke voorsien," sê Rosie. Sy het ook tydens die geleentheid skoolskoene uitgedeel.
"Dit was 'n baie lekker geleentheid en dit was 'n groot voorreg om 'n beoordelaar te wees. Die hoogtepunt was om daardie gesiggies te sien toe hulle die pryse ontvang. Dit was 'n geleentheid wat my baie na aan die hart lê en ek sal dit nooit vergeet nie."
Smit sê daar is baie leemtes in die gemeenskap, veral onder die kinders, maar sy gaan nie die stryd gewonne gee nie. Indien enigiemand by die inisiatief betrokke wil raak, kan hulle Smit by 078 180 5909 kontak.
Rosie Venter jr. saam met van die deenemers.
Rosie Venter (14) saam met deelnemers, organiseerders en ander beoordelaars. Foto's: Andrew Basson‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’