GEORGE NUUS - Die familie van Chandré Vorster (34) is in skok ná haar moord gisteroggend 5 Maart, omstreeks 08:30, in Conville.
Volgens beskikbare inligting het Vorster saam met vriende by ’n huis in Steynstraat gekuier toe sy glo deur haar kêrel met ’n mes gesteek is.
’n Familielid wat kort ná die voorval op die toneel aangekom het, sê Vorster het ernstig gebloei nadat sy met ’n knipmes ("flick knife") gesteek is en het op die toneel gesterf.
Die verdagte het glo ná die voorval van die toneel gevlug, maar volgens die familie het hy hom later aan die polisie oorgegee.
Hy sal na verwagting Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn. Polisie-terugvoer oor die voorval word afgewag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’