GEORGE NUUS - Voorbereidingskool George is in die wolke met dié nuus: Linda Jordaan is vanaf 1 April permanent as skoolhoof aangestel.
Jordaan is reeds die afgelope 34 jaar betrokke by die skool, en het vir die laaste jaar en drie maande as skoolhoof waargeneem.
Onderwysers en beheerliggaamlede het die nuus van haar permanente posisie as hoof verlede week op 'n gepaste manier met blomme en 'n intieme geselligheid gevier.
"Hierdie is vir my 'n wonderlike getuienis dat God vir jou iets groters en beters beplan as wat jy jouself kan indink," het Jordaan by navraag gesê.
"Ek het nie in 2023 aansoek gedoen vir die pos nie, aangesien skoolhoofskap eenvoudig net nie deel van my toekomsdrome uitgemaak het nie. Na onderhoude gevoer is, het die beheerliggaam gevoel dat hulle nie 'n geskikte kandidaat kon vind nie.
"Met ingang van 2024 moes ek toe noodgedwonge as waarnemende skoolhoof optree - ek was die onderhoof en die huidige skoolhoof moes einde 2023 aftree. Ek was oorbluf toe ek besef dat ek eintlik die posisie en sy uitdagings geniet. Hierdie keer het ek wel aansoek gedoen en was aangenaam verras met die positiewe uitkoms van die proses.
Hierdie is vir my 'n wonderlike getuienis dat God vir jou iets groters en beters beplan as wat jy jouself kan indink. - Linda Jordaan
"My dank gaan eerstens aan ons Hemelse Vader, waarsonder ek nie een tree in hierdie posisie sal wil gee nie, asook aan 'n wonderlike, ondersteunende bestuurspan en personeel. Sonder hulle samewerking, liefde en gebede, sou ek nie vir hierdie taak kans kon sien nie."
Voete in die onderwys
Jordaan se onderwysloopbaan het in Aliwal-Noord, by Laerskool Aliwal-Noord begin. "My eerste klassie was 'n gr. 1-klas. In 1989 het ek 'n gr. 3-pos by Voorbereidingskool Cradock opgeneem en was tot einde Maart 1991 daar werksaam.
"Sedert 1991 is ek by Voorbereiding-skool George, waar ek tot Desember 2023 'n gr. 2-onderwyseres was.
"In 2019 is ek bevorder tot departe-mentshoof, in 2020 tot onderhoof, en vanaf 2024 waarnemende skoolhoof."
Op 'n persoonlike noot is Jordaan en haar man lief daarvoor om saam op 'n Saterdagoggend ontbyt te geniet.
"Ons hou daarvan om in winkeltjies, veral waar boeke ter sprake is, rond te snuffel. Verder hou ek van skryf en naaldwerk doen."
Jana Gerber (beheerliggaamslid), Pieta Strauss (voorsitter van die beheerliggaam), Linda Jordaan en Lindi-Mari Liebenberg (beheerliggaamslid).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’