GEORGE NUUS - Ten spyte van talle operasies en dokters wat nie die volkome gebruik van sy hand kon waarborg nie, verteenwoordig Levin Muller (23) nie net SWD-krieket nie, maar het hy ook vroeër dié maand sy BCom-graad in besigheidsbestuur en ekonomie aan die Nelson Mandela Universiteit verwerf.
Muller was een van drie passasiers in Caroline van der Merwe (21) se voertuig die aand van 'n motorongeluk in Junie 2017 wat Caroline se lewe geëis het.
Tydens die ongeluk het Muller ernstige beserings aan sy linkerhand opgdoen en hy moes sewe operasies en intensiewe rehabilitasie ondergaan om sy hand te herstel.
Hy kon sy pinkie, duim en wysvinger effens beweeg, maar nie die ander twee vingers nie. Hy moes vyf jaar studeer en het weens die ongeluk 'n jaar later as sy klasmaats klaargemaak. Sy regterpols het ook gebreek en moes met skroewe geheg word. 'n Groot deel van sy dunderm moes ook verwyder word.
"Ná die ongeluk moes hy mondelings eksamen skryf en ek moes hom help om sy take te tik," vertel Muller se ma, Lisa Malan. "Hy kon ook nie bestuur nie, so ek moes hom oral rondry. Maar, in die tyd toe hy nie self kon krieket speel nie, het hy kinders by laerskole gehelp en afgerig tot hy na 'n jaar en vyf maande weer kon begin speel."
Muller is tans besig om sy honneursgraad in besigheidsbestuur en ekonomie by die Universiteit van Suid-Afrika te voltooi.
"Dit was 'n lang pad. Geestelik en fisiek was dit baie moeilik, maar ek is net dankbaar dat ek weer kan krieket speel," het Muller vandeesweek gesê. "Dis my grootste passie. Vir 'n jaar na my ongeluk kon ek ook nie studeer nie, so om terug te gaan was nogal moeilik. Ek is net dankbaar ek het dit gemaak."
Levin is 'n kranige krieketspeler wat gereeld op die veld uitblink.
Die ongeluk
Caroline is Vrydag 2 Junie 2017 in die grusame motorongeluk dood toe twee motors wat vermoedelik resies gejaag het, in haar vasgery het. Sy was die aand van Mujo Restaurant naby die Glenwood-gholfbaan waar sy gewerk het, in haar Peugeot saam met vriende, Muller, Jean-Pierre Stopforth en Megan Borrett onderweg huis toe.
Sy het in Knysnaweg ingedraai in die rigting na die dorp toe twee voertuie, 'n Chevrolet Sonic en Volkswagen Caddy wat in die teenoorgestelde rigting gery het, haar motor van voor af getref het.
Caroline het op die toneel gesterf. Reddingswerkers van Metro-nooddienste moes van meganiese kake gebruik maak om haar liggaam uit die verfrommelde wrak te bevry nadat hulle ook die beseerde Stopforth en Muller moes bevry. Borrett is lig beseer.
Die bestuurder van die Sonic en sy passasier, sowel as die bestuurder van die Caddy, is lig beseer.
In Oktober 2021 het die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, gesê die ondersoek na Caroline se dood was voltooi en dat die dossier toe by die senior staatsaanklaer ingedien is om te besluit of daar vervolg sal word al dan nie.
'n Medianavraag is vandeesweek weer aan die polisie gestuur. Daar word nog op terugvoer gewag.
Teen druktyd kon die polisie nog nie die nuutste inligting rondom die ondersoek bevestig nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'