GEORGE NUUS - Valmeiré Fourie is 31 jaar gelede ná 'n motorongeluk op 18 Mei 1991 'n skrale kans gegee om te lewe. Op die brose ouderdom van 21 het sy erge breinskade en ander ernstige beserings opgedoen toe die motor wat sy bestuur het, gerol het nadat 'n band gebars het.
Haar bene was in die wrak vasgepen en paramedici het twee ure gesukkel om haar uit te haal.
Sy sou geopereer word, maar die volgende dag het sy in 'n diep koma gegaan as gevolg van 'n vetembolisme.
Die dokters het vir haar ouers, pastoor Okkie en Lettie Taylor gesê dat as sy oorleef, sy weens breinskade nie normaal sou kon funksioneer nie.
Maar die Taylors en mense in 'n gebedsketting het begin bid terwyl dokters gewaarsku het dat hulle eerder die werklikheid moes aanvaar.
Sy het 24 dae later haar bewussyn herwin.
Die dokters was verstom oor haar herstel. Sy was net minder as twee maande in die hospitaal voor sy ontslaan is om tuis by haar ouers aan te sterk.
Die herstelproses was stadig en pynlik en sy moes nog 'n operasie aan haar regterbeen ondergaan wat 6,5 cm korter was as die linkerbeen. Maar sy is daardeur en kon haar lewe behoorlik hervat, en het ook ma geword.
"Ek het drie wonderlike kinders wat hulle plek vol staan terwyl daar voorspel is dat ek nie kinders sou kon hê nie. Lezaan (28) is vanjaar as 'n toppresteerder in onderwys in die Wes-Kaap aangewys, MJ (26) is 'n barista by 101 Meade en 'n briljante kunstenaar, en Valetia (23) is besig met 'n regsgraad."
Valmeiré onthou nog hoe sy 'n dokter destyds langs haar hospitaalbed hoor sê het: "Dis jammer so 'n mooi kind gaan dit nie maak nie."
"Daardie woorde bring altyd net weer die besef - die menslik onmoontlike kán gebeur."
Valmeiré sê sy was aanvanklik opstandig en is geteister deur wanhopige gedagtes oor die verloop van gebeure. Sy het vir lank geweier om 'n voet in die kerk te sit, maar danksy wyle Peter de Swardt, 'n vriend van haar pa, het dit handomkeer verander toe hy haar na 'n erediens by sy kerk genooi het.
"Die boodskap daardie dag het my soos 'n weerligstraal getref en ek het besef dat my lewe 'n Godgegewe doel het. Daardie doel leef ek nou ten volle uit. Ek wil net vir mense sê, dit is geen geheim wat God kan doen nie. Wat Hy doen vir my, kan Hy ook vir jou doen. Hy gee ons almal krag, sy liefde is groot vir ons almal."
Tien jaar gelede het Valmeiré as 'n tuisversorger gekwalifiseer en begin werk. "Dit was een van die beste goed wat ek kon doen. Om na mense om te sien verryk my lewe geweldig en ek put soveel bevrediging daaruit. Ek hoop my storie gee ander hoop vir die toekoms en bemoedig hulle om vas te byt en te glo dat wonderwerke gebeur."
Oom Peter de Swardt was die eerste persoon wat sy versorg het nadat sy haar opleiding voltooi het.
"Hy was my ouderling, mentor, ander pa en beste vriend. Een van die persone wat ek tans versorg, is Marthinus Dreckmeyer wat 38 jaar gelede ook ernstig beseer is in 'n motorongeluk. Ek kan myself met hom vereenselwig. Hy lyk soos wat ek gelyk het na my ongeluk en ek is besig om hom te help om te herstel."
Tussen haar werkskofte deur help sy deesdae ook haar ouers waar sy kan. "Hulle was nog altyd my steunpilare en ek bly hulle vir ewig dankbaar vir hulle geduld, geweldige opofferings en liefde op my herstelpad."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'