GEORGE NUUS - Die Blanco-tak van die Vrouelanbouvereniging (VLV) se eerste maandelikse vergadering vir die jaar vind plaas op 23 Januarie en sal 'n spesiale dag wees waar die tak se 37ste bestaansjaar gevier word.
Alle vroulike inwoners van George word hartlik uitgenooi om die geleentheid in die Blanco NG kerksaal by te woon waar Innes en Greta Benade spesiale gaste sal wees. Enige belangstellendes kan Marietjie kontak by 072 618 0515.
Die tak is op 21 Januarie 1988 gestig met 21 lede en met Beckie Meyer as voorsitter. Sy is opgevolg deur Wina du Toit, toe Betsie Roetz en Mona van Vuuren voordat die huidige voorsitter, Marietjie Schaaff, in Oktober 2023 verkies is.
Die VLV streef daarna om die kennis en vaardighede van die lede uit te brei en die vroue se potensiaal te bevorder deur interessante en leersame lesings, demonstrasies, uitstallings, vertonings, kompetisies en uitstappies.
Ten einde hierdie doelwitte te bereik, het die vereniging ses 'studierigtings', naamlik Openbare Sake, Opvoeding en Kultuur, Landbou en Tuinbou, Gesondheid, Leefstyl en Tuisteskepping, en Kunste en Handvlyt.
Schaaff sê om aandag te gee aan die behoeftes van die hele gemeenskap van George en samewerking tussen alle bevolkingsgroepe te bevorder, is ook hoog op die tak se agenda.
In 2024 het die Blanco-tak skoolskoene geskenk vir Dellville Park Primêr, en 'n Kersete en Kerspakkies gemaak vir die Harmonie ACVV. Die tak het ook vroeër jare geld geskenk aan die George-hospitaal vir lugreëling vir die kindersaal, wat toe in 'n opslaangebou gehuisves is. Oor die jare het Blanco VLV 'n paar keer die nasionale boom van die jaar by gemeenskapsentra geplant. Die dames het verskeie jare sagtespeelgoed gebrei en gehekel vir Mandeladag.
Van die uitstappies wat die tak al onderneem het was na interessante plekke soos die Tolhuis, die George-lughawe en brandweerstasie, asook Sherleys-klerefabriek.
Verlede jaar het hulle 'n Fees van Kleur aangebied met Nicqui Robinson van Kimberley as motiveringspreker. Maretha van der Westhuizen, voorsitter van die George-tak van die VLV, het by dieselfde geleentheid voorgelees uit haar kortverhaalbundel, Skakerings van Kort. Die feit dat sy eers op 60 begin skryf het, het baie lede geïnspireer. Michael Lindt het almal vermaak met sy musiek.
Oor die jare het die lede gesien hoe Angora-konyne geskeer word en hulle hare gespin word in drade om mee te brei.
Hulle het weeftegnieke; blommerangskikking en fotografiewerkwinkels bygewoon, 'n Boplaas-wynproe geniet en is ook getrakteer op praatjies oor Nederland, die maak van porseleinpoppe en die maak van koeksisters en skilferdeeg. Blanco-VLV het laslapwerk asook sylint-, kerspit-, petit point- en syverfwerk op Chinese sy leer doen.
Die lede neem deel aan die VLV se kook-, bak- en handwerkkompetisies, en lede word gereeld getrakteer op musiek-, sang- en kooruitvoerings deur die skole en kerke in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’