GEORGE NUUS - Dobbelverslawing is besig om landwyd 'n verwoestende greep op duisende mense se lewens te kry, en dit gebeur dikwels stil-stil, sonder dat familielede of kollegas dit agterkom - tot dit soms te laat is.
Ook hier in George en omliggende gebiede skilder inwoners 'n donker prentjie.
Hoewel dobbelary dikwels as 'n onskuldige tydverdryf beskou word, wys onlangse navorsing deur die Nasionale Dobbelraad (NGB) dat dit toenemend as 'n oorlewingsmeganisme gebruik word, veral deur mense in finansiële nood.
George Herald is bewus van verskeie gevalle waar aanlyn dobbelary selfs tot selfdood gelei het.
Volgens die NGB het dobbelary in Suid-Afrika van 30,6% in 2017 in net ses jaar meer as verdubbel tot 65,7% in 2023.
In sommige provinsies is die syfer so hoog soos 79%. Die grootste groei is in aanlyn dobbelary, spesifiek sportweddenskappe op selfone, dikwels tydens werksure of selfs deur die nag.
Die sosio-ekonomiese studie toon dat:
- weddenskappe van 13% (2017) tot 46% (2023) gestyg het.
- 31% van dobbelaars tekens van probleemdobbel toon, vergeleke met net 5,8% in 2017.
- 27% van dobbelaars maatskaplike toelae ontvang.
- 29% van volwassenes sê hulle ken minderjariges wat dobbel.
- die meeste dobbelaars tussen 25 en 34 jaar oud is, met deelname tussen mans en vroue feitlik gelykop.
'n Nuwe afhanklikheid
Plaaslike inwoners met wie George Herald gepraat het vertel dat die gemak van selfoondobbelary dit vir mense baie maklik maak om in die greep van dobbelverslawing vasgevang te word.
Vir dié wat finansieel swaar trek is dit uiters aanloklik. Met 'n paar klikke is jy ingeskakel - geen vervoer, geen kontant, geen gewag. Sommige wen aanvanklik groot bedrae by aanlyn casino's, maar die verliese kom vinnig en dikwels teen 'n hoë persoonlike prys.
Waarvoor familie moet oplet
Dobbelverslawing manifesteer nie altyd in oormatige tyd by casino's nie.
Hier is 'n paar waarskuwingstekens:
- Obsessiewe denke oor dobbel en onvermoë om op werk, gesin of gesondheid te fokus.
- Gereelde leen, smeek of selfs steel van geld om te dobbel.
- Dobbel om van probleme te ontsnap.
- Lieg oor verliese of oordryf winste.
- Dobbel tot fondse uitgeput is - sogenaamde 'verliese agternasit'.
- Verslawing aan die adrenalien van risiko, wat lei tot hoër weddenskappe.
'n Rooi vlag moet onmiddellik opgaan wanneer iemand finansiëel afhanklik raak van hoeveel hulle wen, 'n onvolhoubare manier om te oorleef.
Foto: Javon Swaby, Pexels
Groei ondanks skade
Die bedryf het in 2022 0,83% tot die land se BBP bygedra. In 2023/24 het die bruto dobbelinkomste R59,3 miljard beloop, met aanlyn weddenskappe wat meer as 60% van daardie inkomste verteenwoordig.
Die NGB se jongste verslag toon ook dat Suid-Afrikaners in die 2023/24-boekjaar R1 100 miljard uitgedobbel het, 'n 40% toename in vergelyking met die vorige jaar.
Tog toon die statistiek duidelik: Die skade groei vinniger as die wins. Met 'n vyfvoudige toename in dobbelary sedert 2017 is die behoefte aan ondersteuning groter as ooit.
Aanlyn dobbelary ongereguleerd
Die Dobbelwet van 2004 maak nie voorsiening vir aanlyn dobbelary nie (sport- en perdeweddenskappe uitgesluit) en word nie deur die Dobbelraad gereguleer nie. Dieselfde geld vir die Nasionale Lotery, wat onder die Nasionale Loterykommissie val.
Gedurende die boekjaar 2023/24 is loterykaartjies ter waarde van R7,28 miljard verkoop.
Die Dobbelraad se syfers sluit slegs platforms in wat deur hom gereguleer word. Dit sluit onder meer sport- en perdeweddenskappe, fisieke casino's, masjiene met beperkte weddenskappe en uitbetalings, asook bingo in.
Waar om hulp te kry
Wanneer dobbelgedrag gesinslewe begin oorneem, is dit tyd om hulp te soek. Die Suid-Afrikaanse Raad vir Verantwoordelike Dobbelary bied gratis berading en behandeling aan vir mense wat sukkel met dobbelverslawing.
- Skakel 0800 006 008
- WhatsApp of SMS: Stuur 'HELP' na 076 675 0710
- Stuur 'n e-pos aan helpline@responsiblegambling.org.za
* As jy jou storie wil deel, stuur 'n e-pos aan lizette@groupeditors.co.za. Jy kan dit anoniem indien.
Aviator is een van die gewildste aanlyn dobbelspeletjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’