Die boere se segsman, Michael Noble sê egter ‘n amptenaar van die munisipaliteit het vir hulle gesê hulle kan maar vir nog 10 jaar die grond benut aangesien die George Munisialiteit geen onmiddellike ontwikkelingsplanne daarvoor het nie. "Nou gaan hy terug op sy woord en word ons afgesit. Waar moet ons heen met ons varke? Hulle wil juis die varke uit die lokasie hê, maar as hulle ons afjaag, vat ons ons varke soontoe."
Noble sê hulle is bereid huur te betaal.
"Die boerdery is ons enigste inkomste en ons onderhou minstens 40 mense met die inkomste."
Noble sê hulle voldoen ook aan al die gesondheidsvereistes en lewer varke aan die Roelcor-slagpale.
Dis provinsiale grond
George-raadslid Henry Jones het sy gewig agter die varkboere ingegooi en sê die boere het baie geld en energie in hulle onderneming geploeg. "Omdat hulle mee-gedeel is hulle mag maar boer op die grond, het hulle dit skoongemaak, strukture op-gerig en varke en voer gekoop. Mens kan mos nie nou vir hulle sê om die pad te vat nie?"
Jones sê die boerdery is boonop op provinsiale grond en dat hy volgende week oor die kwessie met die Wes-Kaapse minister van Landbou, Gerrit van Rensburg, afgevaardigdes van die George Munisipaliteit en die kleinboere vergader.
Die varkboerdery het egter bure wat vlak langs die varkstalle woon en baie bly is dat hulle aangesê is om te trek. Volgens Alice Alaart het haar pa, Jafta lewensreg op sy huis wat op privaat grond staan.
"Die varke en vrot kos stink. Hulle breek uit hulle hokke uit en vreet my pa se groente en vertrap als. Ons bly al langer as 36 jaar hier. My pa is oud. Ek wil nie hê sy oudag moet deur die varke versuur word nie."
Suur druiwe
Noble sê die enigste suur in die prentjie is egter suur druiwe aangesien hulle eers op Alaart ‘se grond’ met hulle varke geboer het en hom R150 per boer moes betaal, plus ‘n speenvarkie elke maand.
"Toe het dit nie vir hulle gestink nie, maar toe ons na die grond langsaan trek, begin hulle kla. Hy hou ook self ‘n paar varke aan - reg langs sy slaapkamer se venster."
Jones het gesê hy hoop om ‘n bevredigende ooreenkoms vir al die partye op 24 Julie te beding.
"Ons moet mense help om selfversorgend te wees. Mens kan nie hierdie mense net summier wegjaag nie."
Artikel en foto's: Ilse Schoonraad
.jpg)
Alice Alaart met haar 69-jarige pa, Jafta, wat agter verbystap, is verheug dat die varkboere aangesê is om te trek.