GEORGE NUUS - Shamel Spandiel (34), 'n paramedikus van George, is as semifinalis vir die Mev. SA kompetisie gekies. Shamel se pad na sukses het 'n nederige begin as swanger tiener, waar sy saam met haar ma in die plakkerskamp van Borcherds gewoon het. Vandag het hierdie vrou 'n belowende toekoms en pragtige gesin.
Vir die volgende vier maande - tot 30 Junie - kan Georgiete en aanhangers haar met 'n aanlyn stem ondersteun. Van die sowat 100 semi-finaliste word 30 finaliste in die eerste week van Julie, in Johannesburg gekies.
'n Podiumprys sal fantasties wees, maar die hele reis sover sit 'n huppel in haar stap. "Ek het geweet hierdie is die regte geleentheid om weer 'n vlam in my te ontlont. Om 'n ma en eggenoot te wees, is dikwels 'n uitdaging," sê Shamel.
"2024 was ‘n tawwe jaar. Niks wou in plek val nie. Dit gebeur dat 'n mens as vrou voel jy verloor jouself iewers langs die pad. Ek het die Mev. SA kompetisie dopgehou en gevolg, en geweet hierdie is net die regte platform vir my. Ek voel ek is op die regte plek op die regte tyd, ek het weer ‘n lewe. Shamel is besig om weer te verskyn."
Shamel was vir jare betrokke as paramedikus by ER24 in George. Sy het in verskeie afdelings gewerk, waaronder as operateur by nooddienste se distrikskantoor.
Vir die laaste drie jaar is Shamel meesal tuis, as ma vir haar en haar man, Zane Spandiel, se twee dogters, Trinity (7) en Arya (2). Hulle seun, Curtley (19) is tans besig met 'n leerlingskap by die munisipale afdeling waterwerke.
Shamel het destyds as 15-jarige tiener swanger geraak, en moes 'n harde pad stap om te kom waar sy vandag is. Haar kinders en haar man is tans haar grootste ondersteuners.
Intussen is daar harde werk wat voorlê met verskeie selfontwikkelingsprogramme waaraan Shamel deelneem. Sodra haar projekte op die been is sal sy meer daaroor deel. 'n Onderhoud oor EDENfm op 18 Februarie het Shamel herinner aan die dae toe sy as voorsitter van die leerlingraad by Hoërskool Parkdene 'n spreekbeurt by die einste radiostasie gehad het.
"Op skool het hulle altyd die geleentheid op Jeugdag vir kinders gegee. Dit het my teruggeneem na daardie tyd," sê Shamel.
Haar raad aan ander vroue is om nooit hulself te verloor in die proses van vrouwees nie: "Behou jou identiteit; weet wie jy is en wat jy met jou lewe wil doen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’