UNIONDALE NUUS - 'n Negentienjarige van Uniondale met groot drama-drome is deur ABS-produksies, in samewerking met VIA, vir deelname aan 'n dramaslypskool, Speeltoneel, in die Kaap gekeur.
Lee-Roy Sauers se eerste werksessie begin op 2 Julie wanneer hy die res van die span sal ontmoet.
Die opleiding strek oor vier maande tot einde Augustus met een fisiese werksessie per maand, asook verskeie aanlynlesse, waarna deelnemers aan 'n kortfilm saam met 'n bekende akteur gaan meedoen, wat uiteindelik op DStv-kanaal 147 uitgesaai sal word.
"Ek het van 'n baie jong ouderdom af drama gedoen, maar ek het nie regtig geweet wat ek in die toekoms wil wees nie. Ek het wel geweet ek is goed in die kunste," het die jong man vertel.
"Ek het op Facebook gesien dat daar oudisies in Kaapstad is en ek het toe besluit om 'n kans te vat om te kyk hoe ander mense ook optree aangesien dit my heel eerste oudisie was.
"Die oudisies was in Goodwood by een van die laerskole. Ek het my nommer gaan haal en almal was so vriendelik, almal het met mekaar gemeng en niemand het neergekyk op mekaar nie. Ja, ek was baie gestress, maar die ander kandidate het my moed in gepraat. Ons het mekaar so gehelp totdat dit tyd was vir die eerste groep om in te gaan.
In die geselskap van grotes by 'n laerskool in Goodwood, Kaapstad, tydens die oudisies vir die werksessies: van links is Theodore Jantjies (Getroud met Rugby), Lee-Roy Sauers, Cedwyn Joel (Generations) en Ishaad Ali (Suidooster).
"Die akteur Cedwyn Joel het vir ons gesê dat ons nie sleg moet voel as ons nie gekies word nie, want hy self wat jare in die bedryf is sukkel party keer om 'n rol te kry. My pa het my voor die oudisie gebel net om vir my te sê: 'If your dreams don't scare you, it ain't big enough'."
Lee-Roy is, in sy eie woorde, super excited vir die geleentheid wat na sy kant toe gekom het.
"Ek wil graag eendag weer terug ploeg in my gemeenskap om vir jong mense te bemoedig en hulle help om hulle drome te bewaarheid soos wat my drome bewaarheid is. My mikpunt is om eendag 'n drama-onderwyser te word. Ek wil graag by die Universiteit van Fort Hare in Oos-Londen studeer."
Lee-Roy is vol lof vir dit wat hy reeds tydens die oudisies geleer het: "Desiré Gardner het vir ons die waarde van woorde geleer, sy het 'n hele paar skrifte gegee, maar ek het William Shakespeare gevat omdat sy woorde baie waarde het. Viljé Maritz en Izak Davel het vir ons raad gegee oor hoe ons ons woorde moet leer en dit het my baie gehelp om 'n ander manier van leer te ervaar."
Lee-Roy en sy familie hoop op 'n borgskap om te help met vervoer en akkommodasie vir die werksessies. Sy pa is 'n trokdrywer van beroep en dek tans die klasgeld van R4 750 per maand onder moeilike omstandighede. Die akkommodasie en vervoer vir die volgende vier maande beloop R15 000. Enigeen wat belangstel om Lee-Roy te borg of 'n bydrae te lewer kan hom kontak by 071 435 3192. Vir meer inligting oor die slypskool, kontak 061 414 6670.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'