GEORGE NEWS - Ou vriendskappe is hernu, herinneringe is opgehaal en daar is tot laat gedans toe Hoërskool Uniondale se matriekklas van 1976 tydens die skool se onlangse groot reünienaweek, ná 50 jaar saamgetrek het.
Die feestelikhede het met 'n gesellige braai by die gholfklub afgeskop. Oudleerders het van heinde en ver opgedaag, onder meer van Rundu, Elandsbaai, Bloemfontein, Gqeberha, George, Potchefstroom en Kaapstad.
Een van die naweek se besonderse oomblikke was die simboliese intog van die 1976-matrieks by die skousaal.
Dié groep het hul skoolloopbaan in 1965 as sub A-leerders begin. Die hoofseun en hoofmeisie van daardie jaar, Geoffrey Stewart en Anna Snyman-Hubbard, het die oudleerders onder die klanke van die skoollied die saal ingelei.
Onder die eregaste was hul voormalige sub B-onderwyseres van 1966, Mattie Herold-Johnston, hul wiskundeonderwyseres tot st. 8, Susanna van Vuuren, asook die voormalige laerskoolonderwyseresse Zetta Nortje en Elsabe Stander.
Die nostalgie het hoog geloop toe die oudleerders op bekende treffers soos "Those Were the Days", "Was ek maar 'n digter" en "Ahoy, Madagaskar, Ahoy!" gedans het.
Tydens die verrigtinge het twee bekendes van die Uniondale-skou, Sussie Stemmet en Janus Loock, ter viering van die skou se 62ste bestaansjaar saam met Snyman-Hubbard en Marius Smuts twee bome geplant.
Daar was ook 'n roerende oomblik toe die matriekklas hulde gebring het aan drie afgestorwe klasmaats, Susan Wagenaar, Lorena Havenga en Jeanette Summers.
Lolette van Niekerk (née Kritzinger), Altus Strydom en Jeanette Murphy (née Ackermann).
Die reünienaweek is die Sondag met 'n kerkdiens in die NG Kerk afgesluit. Die diens is gelei deur ds. Flip van Rensburg, self 'n lid van die matriekklas van 1976.
Altus Strydom, wat die reünie namens die matriekklas gereël het, het sy dank uitgespreek teenoor Uniondale se gastehuise, die skoolkoshuis, skoukomitee en Lions vir hul gasvryheid en bydrae tot die naweek se sukses. "Uniondale se mense is skitterblink, en hul harte pomp warm!" sê hy.
Die groep beplan om mekaar weer in 2027 te sien.
Die groep bymekaar. Foto's: Verskaf
Vyftig jaar gelede.
Twee bome is op die terrein geplant, van links: Sussie Stemmet, Janus Loock en Anna Snyman (née Hubbard, hoofmeisie van 1965).
Ou skoolmaats het heerlik gekuier: Susanna Visser, Elsabé Stander, Zetta Nortje en Mattie Johnston.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’