RUBRIEK: Dis sekerlik een van die aangenaamste dinge wat baie van ons al beleef het: Om 'n geskenk, wat mooi toegedraai is in papier, te ontvang en dit oop te maak. In hierdie dae in die aanloop tot Kersfees, beleef baie mense dit weer.
Dis 'n tyd wat mense geskenke gee en ontvang.
Die winkels is mooi versier en Kersmusiek word op talle plekke gespeel. Baie huise het pragtige Kersliggies wat elke aand bydra tot sprokieswêrelde na die son gesak het.
Mense is in die algemeen ook meer vriendelik en verdraagsaam. Kersgeskenke is egter nie altyd net fisiese geskenke nie. Dit kan ook belewenisse wees.
In die dae gaan my gedagtes ver terug na my bevoorregte kinderjare. My ouers wat geskenke vir my en my suster gekoop het en vir "Vader Krismis" gee om dit Kersfeesnag met sy bokke en slee te kom aflewer. Hy het glo deur die skoorsteen geklim in sy rooi pak klere en dit dan gelaat in die sitkamer sodat twee jong kinders uitbundige vreugde kon hê op Kersoggend.
Later het my ouers getrek na 'n huis met 'n skoorsteen sonder 'n kaggel. "Vader Krismis" sou dus nie in die sitkamer kon kom nie, maar dit het my nie gepla nie, want ek het nie meer aan "Vader Krismis" geglo nie. Die geskenke was Kersoggend daar.
Daardie aangename kleintydherinnering is vandag nog net so helder. Soms, soos in die dae, gaan haal ek dit uit my kleintydbiblioteek wat kosbaar gebêre word in my geheue.
Dis egter nie net met Kersfees wat ons Kersgeskenke ontvang nie. Soms ontvang ons "vroeë" Kersgeskenke. Vanjaar het ek al in Junie een ontvang. Nou meer as ses maande later en enkele dae voor Kersfees, is dit steeds baie kosbaar. Dit het vir my opnuut bevestig geskenke hoef nie net iets fisies te wees nie.
In my beroepshoedanigheid is ek bevoorreg om dikwels in die heel voorste ry te kan sit om dinge te beleef. Vroeg in Junie het ek 'n berig vir George Herald geskryf oor 'n bejaarde dame Corrie Jacobs van Tergniet wat 100 paar sokkies gebrei het en dit aan die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum in George gegee het.
Dit het gehelp dat die kinders die winter met heerlike warm voete kon slaap.
Jacobs, al in haar 80's, se dogter, Elna Jones, het haar gehelp om die breiwerk vas te werk. 'n Koordjie moes ook gehekel word om in te ryg om die sokkies vas te hou. Haar seun, Barry Jacobs, het gehelp om die koordjies in te steek.
Voordat sy dit oorhandig het, het ek eers telefonies met haar gesels. Dis toe dat ek vasgestel het dat in haar jeugjare was sy 'n leerling aan die Pionier Skool vir Blindes in Worcester. Sy is blind gebore en het as agtjarige by een van haar vriendinne leer brei.
Oor die jare het sy die stokperdjie voortgesit en vreugde met haar breiwerk aan mense verskaf. Om die oorhandiging by die kinder- en jeugsentrum in Junie te kon bywoon, was 'n besondere belewenis. Nie net was dit die sentrum wat geskenke ontvang het nie. Dit wat ek daardie dag beleef het, was een van die grootste "geskenke" wat ek ooit ontvang het. 'n Geskenk duisend.
Al is Corrie gesiggestremd, het sy besonderse geskenke gemaak en gegee. Kersfees is net een keer per jaar, maar dit hoef nie net tot dan beperk te wees nie. Dit kan elke dag wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'