GEORGE NUUS - Die 16-jarige Emma de Kock van George se passie vir bak is besig om te ontpop in 'n klein besigheid wat 'n handige inkomste verskaf terwyl sy nog op die skoolbanke sit.
Emma is veelsydig in die kombuis en is die een wat maaltye opdis wanneer die De Kock-gesin onthaal, maar sy het veral 'n voorliefde vir broodbak ontwikkel wat gelei het tot haar eie handelsmerk, Lady Loeloeraai, waaronder sy haar varsgebakte suurdeegbrood bemark.
Emma gesels blinkoog en met groot entoesiasme oor haar produk.
Die naam het bietjie meer as 'n jaar gelede in haar ma se mooi kombuis beslag gekry nadat sy en haar pa, Herman, 'n suurdeegwerkswinkel in Calitzdorp bygewoon het.
Die gogga het gebyt, en haar broodbakkery het in 'n vaardigheid ontwikkel wat sy met die passie van 'n toegewyde kunstenaar benader, van die maak van die suurdeeg of "ouma", soos sy dit noem, tot die meng en vou van die deeg presies elke halfuur - soms 02:00 in die nag. Sy gesels kundig oor goed soos omgewingstemperatuur en die lug se voginhoud, alles faktore wat jou sukses bepaal.
Emma se wekkertjie gaan af terwyl sy gesels en sy neem die kans waar om die vouery te demonstreer met 'n bondel deeg wat onder 'n doek in 'n flou sonnetjie op die stoep staan en rys.
Sy is baie gesteld op kwaliteit en gebruik 'n spesifieke klipgemaalde meel met 'n goeie reputasie en hoë proteïen-inhoud. "Daar is nie bymiddels of preserveermiddels in my brode nie en die lang fermentasieproses maak dit meer geskik vir mense wat sensitief is vir gluten," vertel sy.
Emma met 'n skottel deeg.
Toe die De Kocks vier jaar gelede van Gauteng af George toe verhuis het, is Emma by Glenwood Kollege ingeskryf, maar Lady Loeloeraai het so mooi van die grond af gekom dat die gesin ná deeglike oorweging besluit het sy moet oorgaan na tuisonderrig om die bakkery by haar skoolroetine te kon inpas.
"Dit was 'n groot stap en aan die begin uitdagend, maar Emma het haar roetine gevind en hou mooi by haar skedule. Sy moes baie grootmensgewoontes aanleer en om selfstandig te werk. Sy is onder die toppresteerders in haar aanlynklas," vertel haar trotse ma, Emmie.
Om verkope aanvanklik van die grond af te kry, het ma en dogter weekliks die pad gevat en aflewerings gedoen. So het Emma vaste weeklikse klante gewerf, maar sy het op eie inisiatief onlangs 'n afsetpunt gekry toe Suikerbos-padstal by die Cornerstone Lifestyle Centre ingestem het om haar brode aan te hou.
Die genot wat sy uit die bakkery put, skryf sy toe aan haar Ouma Hanna wat haar "baklus gevoer het" toe sy klein was.
Emma het al as klein kind entrepreneur gespeel. Sy was maar agt jaar oud toe haar ma eendag verbaas moes toekyk hoe sy 'n klein tafeltjie op haar eentjie sypaadjie toe dra en haar koekies, wat sy self gebak het, daarop uitstal om te verkoop.
VIDEO: Emma gesels oor deeg vou en "oumas" maak
Emmie, 'n besigheidsmentor vir prokureurs, sê sy is maar te bly om haar eie inbly-sjef te hê, want sy self is "gestrem" in die kombuis. Emma maak die bykosse wanneer haar pa braai, en wanneer onthaal word, is sy die een wat sorg vir 'n fees op die tafel, van stadig geroosterde skaapboud en gebakte groente tot poeding. "Sy doen navorsing en probeer gedurig nuwe idees. Haar kos is regtig lekker. Ek is trots op haar."
Sy is tans in graad 11. Sy is sportief en is lid van die George-netbalgroep DIVAS, en het ook 'n kunssinnige sy. Sy het self haar Lady Loeloeraai-logo ontwerp.
Na skool wil sy in 'n BCom-rigting studeer en dan is haar groot droom om 'n opstal op 'n stukkie grond te hê waar sy en haar suster, Hanna, tans 'n student in dierewetenskappe aan Tukkies, hul eie besigheid kan bedryf.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’