Dit wil voorkom of die familie 'n resep vir langlewendheid het, want haar broer oom Adam de Swardt het ook 'n eeu geleef. Oom Adam is op 8 Julie 2010 oorlede.
Tannie Nellie vertel graag van die dinge wat sy beleef het en mense wat sy geken het. Nadat sy aan die Hoërskool Outeniqua klaargemaak het, het sy na haar ouers op die plaas gaan omsien en 90 jaar op die familieplaas, Kraaibosch gewoon. Sy het daarna saam met haar jonger suster in George kom woon, waar sy steeds lid van die NG Moedergemeente is.
Tannie Nellie onthou nog goed hoe hulle met die kapkar gery het en oupa De Swardt jaarliks betaal het vir sy bank in die Moederkerk. As die familie nou na daardie kerk gaan, sit hulle graag op "Oupa se bank" waar 'n mooi bordjie met goue- en swart sierskrif vroeër die naam SS de Swardt aangedui het.
Sy het nooit die ware liefde in haar lewe gevind nie en dus by haar ouers gebly om hulle te versorg. "Ek het net een liefdesbrief gekry, maar ek wou nie met hom trou nie, want ek glo 'n mens trou vir liefde," vertel tannie Nellie in 'n sagte fluisterstemmetjie. "Ek het 'n skoon lewe gelei - niemand kon ooit oor my skinder of my 'n flerrie noem nie," vertel sy met 'n glimlag tydens die George Herald se besoek. Sy is tevrede met haar lewe en voel die innerlike vergenoegdheid het sy bereik deur die "minste te wees". Sy lees liewer biografieë as liefdesverhale en kyk nie veel TV nie, maar geniet die Afrikaanse sepie Sewende Laan.
Aanstaande Saterdag se familiesaamtrek en teeparty wat gereël is om haar verjaarsdag te vier, sal 'n hoogtepunt in haar lewe wees. Sy was ook bevoorreg om by haar broers en susters te kuier wat wyd verspreid oor die land gewoon het. Ook om as jong kind die nagmaalsaamtrekke by die NG Moederkerk in George by te woon. Dit was by hierdie geleenthede wat die boere, wat nie dorpshuise
gehad het nie, sommer in die tent gedeelte van hul ossewaens geslaap het. So deur die gesels raak sy bewoë oor familielede wat nie meer daar is om haar verjaarsdag saam te vier nie, maar haar sus, Margaretha (86) leef nog.
Sy het nooit getrou nie, maar die 24 kinders van haar broers en susters se verjaarsdae kan sy tot vandag onthou. Sy het George sien groei en bloei.
Een van die persoonlikhede van George wat sy geken het, was mev. Cloete, van Alphen/Constantia se Cloetes. Die statige mev. Cloete was die eggenote van 'n senior amptenaar in die Kaapse regering ten tyde van die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) en het onthale vir Britse en ander regimente (Australiese en Kanadese) en vir hoogwaardigheidsbekleërs in Kaapstad gehou.
Mev. Cloete het die gronde waarop Carmel geleë is, sowel as grond aan die noordekant van die huidige Victoriabaai-pad van tannie Nellie se familie gekoop en dit Vier Winde genoem.
Daar het tannie Nellie altyd aandlelies en Blue Bells gaan pluk wanneer dit in seisoen was. Haar blomtuin was altyd haar trots en sy was besonder lief vir haar rooi Hibiscus. Sy is tans in 'n rystoel, maar kan nog goed genoeg sien om te kan lees.

Tannie Nellie (vierde van links) en haar familie in die vroeë vyftigerjare. Agter van links is: Martha Catharina (geb. 10/7/1906), Adriaan Stephanus (geb. 13/8/1908), Adam Johannes (geb. 27/5/1910), Petronella Johanna (geb. 26/11/1912), Rosina Maria (geb. 12/4/1915) en Salomon Stephanus (geb. 27/2/1919). Voor - Rosina Maria (neé Stander, geb. 26/3/1882), Catharina (geb. 6/4/1925), Margaretha (geb. 6/4/1925), Salomon Stephanus (snr. geb. 18/8/1881).