GEORGE NUUS - Die 12-jarige Talia van Rensburg wat onder Georgiete bekend geraak het om haar doppieherwinningsprojek, Tops en Tabs, moet met groot hartseer haar projek beëindig.
Dit nadat Interwaste nie meer met hul rolstoelprojek voortgaan nie. Interwaste het 'n rolstoel geskenk aan iemand wat dit nodig het vir elke 450 kg plastiekdoppies wat ingebring is.
Talia het in 2016 op agtjarige ouderdom die Vroue-Landbouvereniging se projek begin steun om plastiekdoppies in te samel. Sy het dit met soveel entoesiasme gedoen dat 13 mense rolstoele daardeur ontvang het. Daarvoor moes sy 5,83 ton se doppies insamel.
In Februarie vanjaar is Talia as George se Inwoner van die Maand aangewys, 'n inisiatief van We are George, Eden Lions en George Herald om erkenning te gee aan Georgiete wat sinvolle bydraes tot die gemeenskap lewer.
Talia het inwoners so geïnspireer met haar ywer dat hulle tot doppies oor die Van Rensburgs se heining gegooi het. Toe sy egter onlangs 600 kg se doppies by Interwaste wou gaan aflewer, moes sy verneem dat die rolstoelprojek nie meer voortgaan nie, want Interwaste sluit sy deure.
"My hart is baie seer. Die projek was baie na aan my hart. Maar ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ek van almal die afgelope paar jaar ontvang het."
Hierdie is egter nie die enigste projek wat Talia - buiten haar skoolwerk - besig hou nie. Sy besoek ouetehuise, organiseer verjaarsdaggeskenke vir kinders by die skool en help Chinese studente met Afrikaans. Sy is ook betrokke by inisiatiewe van Kansa.
Talia se ma, Debbie, sê Talia het omtrent haar oë uitgehuil. "Interwaste het gesê dat hulle slegs nog een rolstoel kan skenk, maar Talia het doppies vir nog twee. Ons kan nie meer die doppies ontvang nie, want ons kan dit nie verwerk nie. Henque Waste het gesê hulle kan doppies inneem en as mense nog met die herwinning van doppies wil voortgaan, kan hulle dit direk soontoe neem."
George Herald-joernalis Michelle Pienaar doen meer volledig berig oor Interwaste se sluiting. Lees Donderdag meer in die George Herald, en aanlyn.
Verwante artikel: Talia (11) help gestremdes
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'