GEORGE NUUS - 'n Leerder van Laerskool George-Suid, Talia van Rensburg (11), het Vrydagaand die harte van aanwesiges gesteel by die openingseremonie van die Outeniqua Chair Challenge (OCC).
Tydens die geleentheid by die Carpe Diem Skool het sy aan die uitgelese gehoor en atlete meer vertel van haar projek oor die insameling van plastiekdoppies en broodknippies.
Sy bring glimlagte op mense se gesigte want met die projek het sy al gehelp dat minstens 10 mense rolstoele ontvang het en die proses is aan die gang om nog drie te oorhandig.
Dis duidelik dat niks in die pad staan van die gr.6 leerder nie. Die afgelope vier jaar het al sowat 450 kg se doppies ingesamel wat sowat 80 swart sakke vol gemaak het.
Die projek kom al 'n lang pad. Die projek is reeds in 2016 deur Riëtte Rademeyer, 'n lid van die George Vroue-landbouvereniging (VLV), begin.
Rademeyer het Maandag vertel dat sy destyds die idee gekry het om iets te doen vir plastiese herwinning. Sy het 'n kennisgewing daaroor by 'n biblioteek opgesit. Daarin is mense genooi om harde plastiese koeldrank en melkdoppies vir haar te bring. Talia het daarop reageer en sedertdien het die projek van krag tot krag gegaan.
Talia het vertel dat sy tydens 'n Landsdienskamp drie jaar gelede geïnspireer is deur waardes soos liefde vir God, liefde vir die natuur, liefde vir jou medemens en liefde vir diere. Dis waar alles begin het.
Sy samel die doppies en broodknippies in en neem dit na die herwinningsmaatskappy. Hulle hanteer die papierwerk om die rolstoele te koop.
Sy was al self teenwoordig toe van die rolstoele oorhandig is.Tydens het een van die geleenthede het 'n vrou 'n rolstoel namens haar ma ontvang. "Die tannie het vir my gesê dat ek op die dag bene vir haar ma gegee het."
Talia is nie van plan om gou met die projek op te hou nie. Mense wat weet waarmee sy besig is bring vir haar die doppies en knippies. Soms sit mense dit in plastieksakke en gooi dit oor hulle heining dat sy dit kan optel.
Die projek hou haar by tye baie besig want die doppies en knippies moet van mekaar geskei word.
Talia se ma, Debby, het gesê sy en haar man, Sydney leer by hul dogter. "Ons het geleer dat 'n mens nie net 'n verskil vir een dag moet maak nie, maar 'n leeftyd."
Talia van Rensburg (11) by van die doppies en knippies. By haar is haar familie se twee honde, Zylvester en Yogi. Foto: Eugene Gunning
Talia van Rensburg (11) a pupil in grade 6 in George South Primary School is involved with a recycling project. That helps to buy wheelchairs for people with disabilities. Last Friday she told people at the opening ceremony of the Outeniqua Chair Challenge (OCC) more about the project. She has already helped 10 people to get wheelchairs.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'