GEORGE NUUS - 'n Ongeluk wag net om te gebeur op die grondpad by die Syferfontein-informele nedersetting, sê Francois Voges, 'n motoris wat die roete gereeld gebruik om na 'n nabygeleë ryskool te gaan.
Dis 'n grondpad wat aansluit by Olympia-rylaan in Pacaltsdorp.
"Dis 'n gevaarlike situasie, want daar word vinnig en soms roekeloos op die pad gery en daar is nie 'n sypaadjie vir voetgangers nie. Hulle is verplig om in die pad te loop. Ek kla al seker ses jaar oor die situasie," sê Voges.
Inwoners van daar het by navraag gesê hulle sal 'n sypaadjie verwelkom. "Ons het nie 'n keuse nie, ons moet die pad gebruik om in te gaan dorp toe.
"Ons moet in die stof loop en as dit reën is dit modderig. 'n Mens moet ook maar versigtig wees vir die karre."
Die Garden Route-distriksmunisipaliteit het George Herald na die departement van vervoer en openbare werke verwys. Terugvoer van die departement word afgewag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'