SUID-KAAP NUUS - Sydney Opperman, 'n groot gees van die Suid-Kaap en voormalige parlementslid en burgemeester van George, is vanmiddag, Vrydag 6 Julie, in die ouderdom van 82 jaar oorlede.
Hy was met sy dood in die St George's Hospitaal in Gqeberha nadat hy 'n operasie ondergaan het.
Natasja Ryneveldt, sy dogter van Gqeberha by wie hy die laaste paar jaar sedert sy vrou se dood gewoon het, sê haar pa was nog aktief en het die afgelope naweek tydens 'n familiesaamtrek by 'n strandhuis in Gqeberha saam met hulle see toe en terug gestap.
Hy het Maandag begin kla dat hy nie lekker voel nie en toe hy nie beter word nie, is hy Woensdag in die hospitaal opgeneem. 'n Operasie is op hom gedoen, maar ernstige komplikasies het ingetree.
"Hy het sy verjaarsdag op 25 Junie gevier en op 27 Junie sy 50ste geestelike verjaarsdag, die herdenking van die dag toe hy tot geloof gekom het," het Ryneveldt gesê.
Opperman was 'n boorling van Oudtshoorn. Hy het in die tagtigs met sy gesin na George getrek om 'n Assemblies of God-gemeente in Rosemoor te begin.
Hy was baie aktief in die politiek. Hy het 10 jaar as LP gedien en was op 'n stadium George se burgemeester. Hy was ook vir etlike jare 'n onderwyser by Pacaltsdorp Sekondêre Skool.
Opperman was verder 'n kampvegter vir die Ottentotu-kultuur en -geskiedenis in die Suid-Kaap.
"My pa laat 'n ryk nalatenskap. Hy was iemand wat goeie verhoudinge gehandhaaf het met mense op verskillende vlakke van die samelewing," het Ryneveldt gesê.
Lees meer in volgende week se George Herald, en aanlyn.
Sydney Opperman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’