GEORGE NUUS - Sydney Opperman, 'n voormalige parlementslid en burgemeester van George wat op 5 Julie oorlede is, was 'n groot gees met 'n ryk nalatenskap.
Die 82-jarige Suid-Kapenaar was 'n boorling van Oudtshoorn waar hy skoolgegaan en later aan die Bridgton Onderwyskollege en Opleidingskollege Suid-Kaap studeer het.
Hy was ook verbonde aan die Wes-Kaap Bybelkollege in Athlone in 1980.
Hy en sy vrou, Agnes, en hulle kinders het in die tagtigs na George verhuis om 'n Assemblies of God-gemeente in Rosemoor te begin. Hier was hy vir etlike jare ook onderwyser aan die Pacaltsdorp Sekondêre Skool.
Opperman was aktief in die politiek en was George se burgemeester en onderburgemeester tussen 1995 en 1998 en nasionale parlementslid van 1999 tot 2009.
Sy herkoms was vir hom 'n saak van erns. Hy was 'n kampvegter vir die Ottentotu-kultuur en -geskiedenis in die Suid-Kaap en het navorsing gedoen saam met dr. Cyril Hromník.
Van Opperman se navorsingsinligting is aangeteken in sy boek, Is there a book for a nation? , wat in 2022 op sy 80ste verjaarsdag vrygestel is.
Hy was voorsitter van die Wes-Kaapse en nasionale Geografiese Name-komitee en betrokke by die stigting van die Fondasienasie Restourasienetwerk (FNR) wat Bybelse restourasie van die "fondasienasie" voorstaan.
In 2019 is hy vereer met 'n toekenning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport vir sy bydrae tot die transformasie van die erfenislandskap.
Opperman is in die St. George's Hospitaal in Gqeberha oorlede nadat hy skielik siek geword het.
Ryneveldt sê haar pa was iemand wat goeie verhoudinge gehandhaaf het met mense op verskillende vlakke van die samelewing en was 'n wonderlike gesinsman.
"As familie dank ons Vader God. Hy was 'n regte pappa. Toe ons klein was, het ons altyd uit die kamer geroep, 'Pappa! ... PAP!' Hy het ons dan verseker dat as ons nie 'asseblief' bygesê het nie, sou hy vir ons mieliepap maak vir ontbyt. Hy het altyd gesê, ' 'n Pappa gee PAP', waar die eerste 'P' staan vir 'provision', die 'A' vir 'affirmation' en die ander 'P' vir 'protection'. Inderdaad salueer ons 'n pa wat PAP vir ons gegee het, genoeg om ons ook die toekoms in te dra."
Opperman laat twee broers, Willem en Cicel agter, asook sy seuns Rodriques, Werner en Angelo, en dogter Natasja Ryneveldt. Sy oudste dogter, Marelize Canary, is reeds ontslape. Hy het 12 klein-kinders en twee agterkleinkinders.
'n Gedenkdiens het Woensdag in die Toekomsrus-gemeenskapsaal in Oudtshoorn plaasgevind en 'n tweede word vandag om 11:00 by die Makarios Assembly of God in Rosemoor gehou.
Sydney Opperman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’