GEORGE NUUS - Dit stink na menslike afval, gemors lê oral rond en tekens van huisvesting is duidelik sigbaar. Die deurgangspad agter Shoprite in die middedorp, waar vragmotors daagliks voorraad aflaai, is morsig en onhigiënies. Só het 'n lid van die publiek laat weet toe sy onlangs die pad noodgedwonge moes gebruik.
"Hierdie is 'n gesondheidsrisiko," het sy gesê.
Met George Herald se besoek Maandag 2 Oktober, was een van die inwoners besig om die area skoon te spuit. Hy woon al jare daar, en het besluit om sy ongewenste gaste - ander straatbewoners - weg te jaag omdat hulle te veel mors. Die reuke was onuithoudbaar en die joernalis moes haar skoene was en ontsmet na die besoek.
Wie moet pa staan?
George-munisipaliteit se bestuurder van wetstoepassing, Richard von Willigh, het by navraag gesê die betrokke area is die privaat eiendom van Shoprite en die verantwoordelikheid berus by die eienaar van die eiendom om te verseker dat hul eiendom omhein/beveilig is en om ongewenste persone te verwyder.
Shoprite se mediaspan het op 'n versoek om kommentaar gesê die perseel waarna verwys word is deels privaat grond en deels munisipale grond wat as deurgang vir die publiek dien en dus nie toegemaak mag word nie.
"Wetstoepassing word gereeld ontbied, en die publiek word aangemoedig om dieselfde te doen," het hul mediaspan gesê.
Sophie Fanelo, bestuurder van sosiale ontwikkeling by George-munisipaliteit, het bevestig dat hul afdeling die status van die persone wat in daardie area bly, sal ondersoek.
George Herald het betroubaar verneem dat die deurpad verlede week deur 'n privaat maatskappy skoongemaak is, maar dat haweloses binne 24-uur weer opgedaag het en die area van vooraf bevuil het.
Iemand se huis in die deurgangspad agter Shoprite. Terwyl George Herald die area besoek het, het 'n vrou uit die tent gekruip en haar klere reggetrek.
Historiese kwessie
George Herald het al telkemale berig oor probleme wat besighede en inwoners ondervind wanneer haweloses skuiling soek teen geboue. Soos een persoon uitgewys het, dit begin by oornag, maar eindig met oop vure vir hitte en kos, en die straat en sypaadjie word 'n toilet.
Inwoners van Greeff-woonstelle in Morris-laan, agter George-polisie, het "permanente inwoners" wat dieselfde uitdagings meebring.
Jare gelede het die eienaar van 'n restaurant wat by die Van der Stel-plein naby Shoprite geleë was, aan die joernalis gesê dat sy elke oggend menslike afval van haar stoep moet afspuit voordat sy die deur kan oopsluit vir kliënte.
Die restaurant het intussen sy deure gesluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’