GEORGE NUUS - Ná dertien jaar van inspirasie, gebede en stryd, sien Sumayyah Petersen se eerste digbundel binnekort die lig. As alles volgens plan verloop is Kortpad na Makkah in November op die rakke. Sumayya is 'n Moslem, 'n kind van George en bitter lief vir haar moedertaal, Afrikaans.
Sy is in George gebore, getoë en het aan Hoërskool George gematrikuleer. Sy koester pragtige herinneringe van ondersteuning deur onderwysers dwarsdeur haar skoolloopbaan, sedert haar kinderjare by St Mary's Primêr.
"Goeie dinge kom ook vanuit die agterstrate. Ek is nie van die suburb nie, maar van 'n lokasie, en ek is glad nie skaam daarvoor nie, eerder trots, want dis die stad wat my gevorm het!" sê Sumayyah, wat deesdae in Johannesburg skoolgee.
Haar oorlede pa, James Campher, het Sumayyah liefderik die "Godmother van Afrikaans" genoem. Dit is ook haar verhoognaam wanneer sy poësievoorlesings of motiveringspraatjies lewer.
'n Harde reis
Sumayyah is deur diep waters met haar pa se dood in haar matriekjaar, en haar lewensreis het haar ook na die neurokliniek in George gelei. "Ek was vasgevang in 'n wêreld van stilte en seer," beskryf sy hierdie tyd van haar lewe.
"En voorwaar, met elke swaarkry kom verligting (Soera 94:5)," haal sy aan uit die Koran.
"Met Allah se genade het ek opgestaan. Ek het my plek in die wêreld gevind as 'n Afrikaansonderwyseres, een wat met liefde en passie kinders leer om Afrikaans te verstaan en lief te hê. Ek het die krag gevind om te skryf - om my pyn en oorwinning in woorde te giet.
"En nou, ná al die jare van worsteling, hoop en aanhou glo, word 'n droom, lank gekoester, uiteindelik werklikheid: my eerste boek sien binnekort die lig.
"My oë is oopgemaak vir 'n waarheid wat ek nooit gesoek het nie, maar waarvoor my siel lankal geroep het. Ek het my geloof verander - ek het Islam omhels. Nie uit opstandigheid nie, maar uit liefde. Nie omdat ek verander het nie, maar omdat ek gevind het wie ek altyd was."
Sumayyah Petersen (links) en haar naani (ouma) vanuit die Hindu-gemeenskap, Lilly Moodley, 'n bekende in George. "Die grootste geloof op aarde is eintlik liefde, en liefde ken geen grense." Hierdie woorde van Moodley was nog altyd 'n inspirasie vir Petersen. Foto: Facebook
Geloofskeuses
Hierdie was nie altyd 'n maklike reis nie, want mense het haar verlaat weens haar geloofskeuses: "Ek moes hoor: 'Ons is van verskillende verbonde, ons kan nie meer kontak hê nie.' My hart het gebreek, want ek het myself gegee, liefgehad sonder voorbehoud - ek het my koppie leeggemaak vir hulle, en tog is ek gelos."
Sy glo haar pad is die pad vir haar en dat elke hart sy eie huis kies. "Ek sê vandag: Dankie aan diegene wat my steeds sien, wat my liefhet sonder om te kyk watter geloof ek bely. Julle is die liggies in my lewe. Ek dra julle in my gebede, en ek roep uit my hart: Ek het dalk my geloof verander, maar ek het nie verander nie. Ek is steeds ek. Ek is steeds liefde. Ek is steeds hier."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’