TUINROETE NUUS - Die Suid-Kaapse Fynproewers se demonstrasie van 2 Maart was geïnspireer deur die onlangse aardbewings in Turkye en Sirië. Nie alleen het die spyskaart 'n Turkse tema gehad nie, maar 10% van die omset is as donasie bewillig.
Dit tesame met persoonlike skenkings van die lede is namens die gilde aan Gift of the Givers oorbetaal.
Die Turke het 'n spesiale liefde vir jogurt en pietersielie in hulle geregte en die meeste van sjef Emile Nel se disse het dit in die bestanddele of garnering gehad.
Die eerste gereg wat gedemonstreer is, was Manti, vir ons beter bekend as dumplings, gevul met maalvleis en opgedien met 'n tamatiejoghurtsousie. Dit is gevolg deur die gunsteling van die dag, Turkse Pide, 'n oop, bootjievormige geroosterde broodjie, gevul met maalvleis en kaas en bedien met ezme-slaai en jogurtsous.
Daarna is loukoumades gedemonstreer - diepgebraaide deeg wat daarna in stroop gedompel word.
Manti.
Die nageregbord was enige soettand se droom en het bestaan uit tuisgemaakte Turkse-lekkers en baklavasigare.
Die Fynproewersgilde het sjef Nel en sy span bedank vir 'n uitstekende demonstrasie en alle soortgelyke verenigings uitgedaag om ook 'n welsynsbydrae aan 'n instansie van hulle keuse te maak.
Die volgende Fynproewersdemonstrasie vind op 4 Mei plaas. Belangstellendes kan vir Santie van Vuuren bel by 082 461 0777.
Nageregbord met baklavasigare en loukoumades bedien met roomys.
Sjef Emile Nel het 'n uitstekende demonstrasie gelewer.
Turkse panna cotta.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’