GEORGE NUUS - Die konstante styging van brandstofpryse in Suid-Afrika is genoeg om enige motoris moedeloos te maak.
Motoriste kan hulself regmaak vir nog 'n prysskok in Junie namate oliepryse aanhou styg en die regering se tydelike verligting op brandstofbelasting tot 'n einde kom.
Dit kan beteken dat motoriste binnekort tot R3.70 per liter meer sal moet betaal.
George Herald het by Georgiete gaan aanklop om te hoor hoe hulle hieroor voel en hoe dit hulle beïnvloed.
Pieter Nel van die George Lions-klub.
Die aanhoudende stygende brandstofprys raak die George Lions baie deurdat ons nie meer soveel uitreikprogramme en humanitêre werk kan verrig soos in die verlede nie.
Kevin Fuchs'n Tenk petrol het my 'n maand gehou werk toe en terug, en om naweke see toe te gaan om vis te gaan vang en in kompetisies te hengel. Die stygende petrolprys plaas 'n groot demper op my omdat ek minder tyd by die see kan ontspan en sport beoefen. Maar prioriteite is daar, so ons sal die lekker moet sny.
Chanelle PretoriusDie stygende petrolprys het nogal 'n groot invloed op my daaglikse lewe en my maandelikse begroting. Nou moet jy twee keer dink voor jy vinnig in jou kar spring om 'n brood en melk te gaan koop of selfs gym toe te gaan. Jy moet seker maak jy het genoeg geld om by die werk te kom, wat nog te sê van rondrits.
Salome Bruyns, Tuinroete-DBVDie brandstofverhoging het 'n groot impak op ons. Ons voertuie is basies heeldag op die pad en die gebied wat ons dek is groot. Meeste mense vir wie ons hulp aanbied het ook nie vervoer nie, so ons moet uitry om die diere op te tel en af te laai. Ons doen ook werk buite ons area en ons voertuie werk dag en nag. Ons werk is daar buite en ons moet oral ry om wreedheid teenoor diere te kan bekamp.
Kennith WilliamsBrandstofpryse het duur geraak en dit beïnvloed die pryse van openbare vervoer wat nou al R12 is. En soms moet jy twee taxi's vat en dit raak duur as jy twee keer 'n dag moet ry. Die brandstofprys maak dit al moeiliker om te gaan waar jy wil, wanneer jy wil, want nie almal kan dit meer bekostig nie.
Charly Daman, voorsitter van Pacaltsdorp-GPFDit beïnvloed ons gemeenskap en ons veiligheid geweldig. Nie net ons as gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) nie, maar ook ons sportklubs in die omgewing word daardeur geraak. Ons kan nie meer ons sport beoefen nie, brandstofpryse is te hoog en dit bemoeilik vervoer vir ons spelers en ondersteuners. Die GPF word benadeel omdat ons nie kan bekostig om rond te ry nie, wat maak dat ons nie ons verpligtinge kan nakom om die gemeenskap teen misdaad te kan beskerm nie.
Hanri Marais - Die stygende brandstofpryse maak dit vir ons as besigheidseienaars baie moeilik. Alles word baie duur en kliënte koop minder. Dit het 'n groot impak op ons bedryf. Salarisse bly dieselfde, maar alles gaan op. Dit beperk mens ook om te doen wat ontspannend is en depressie gaan nog erger word na Covid. Dit is baie hartseer.
Chévanne Shear - Being in the office automation business with fuel prices going completely through the roof, we unfortunately sit with supplier increases which have a snowball effect on the prices we give our customers. Business supply prices go up as it's costing the suppliers more, especially on delivery. Businesses need the products and we have to quote higher. It is out of our hands and people simply cannot afford that now. This is not only detrimental to the middleman, but also the sales people. Delivery costs have nearly doubled and businesses can’t afford it. It affects every company in SA negatively. No one can keep head above water. The fuel hikes could be the death for our country. It’s scary.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'